Video: Pierre Wheeler
KEMPTONPARK. – AO Carien Schultz (47), ‘n polisievrou in murg en been, is agt maande na haar dubbele longoorplanting op Sondag 17 September 2023 oorlede.
Indien jy haar plasings op sosiale media kon dophou, sou jy sien sy was vas in haar geloof geanker.
‘n Gedenkrit het Maandag vir hierdie besondere vrou wat soveel harte aangeraak het op ‘n spesiaal beplande roete plaasgevind.
Tydens haar gedenkdiens wat Dinsdag uit die NGK Kempton Kruin plaasgevind het, het haar dogter Dominique ‘n treffende boodskap oor haar ma gegee wat vertroosting aan treurendes gebring het.
Op 13 September skryf Carien op sosiale media: “8th month Lungaversary. Thank you Jesus for this extra EIGHT months that You have added to my life so that I can make every day count and I can make memories and my life be a testimony of Your greatness, Jesus Christ, Son of God.”
Toe FiND iT gedurende 2022 oor haar berig het, het sy nog kliphard elke dag as prioriteitspasiënt vir gesondheid baklei terwyl sy vir twee longe van ‘n orgaanskenker gewag het.
Op 13 Januarie 2023 het haar grootste wens op ‘n tweede kans waar geword toe sy haar nuwe longe ontvang het.
Carien wou net weer haar trotse blou polisie-uniform aantrek en teruggaan werk toe waar sy sedert 2001 by Kemptonpark-polisiestasie gestasioneer was, maar het helaas op 30 Junie 2023 as gevolg van haar gesondheid uit die polisie getree.
Carien het selfs FiND iT-lesers wat hulp nodig gehad het met haar mooi omgee-geaardheid bygestaan. Medelye het van haar dood ingestroom.
Sy word deur haar man Robert, dogters Dominique en Anja, skoonseun Riaan, drie kleinkinders, suster Janene en haar gesin oorleef.
En dan tref haar Facebook – inleiding onder haar profielfoto en naam: “Tetelestai” ♡ it is finished.”
FiND iT het op 12 Oktober 2022 soos volg berig:
AO Carien Schultz (46), uniformlid van Kemptonpark, is al 23 jaar in die polisie, maar kon van Februarie af nie meer werk nie en wag as prioriteitspasiënt vir ‘n dringende dubbele longoorplanting.

Sy is dankbaar vir die geskenk van ‘n draagbare suurstoftoestel wat Devon Hofmeyr, seun van Steve, aan haar geskenk het, waarmee sy indien sy sterk genoeg voel, die huis kan verlaat.
Vandag klink Carien se asemnood egter so erg dat ons dadelik op geskrewe boodskappe besluit, omdat sy nie veel woorde na mekaar kan uitspreek terwyl sy om asem veg nie.
“My harsbegeerte is om weer te gaan werk. My mooi blou uniform aan te trek en mense te gaan dien.”
Sy en Robert, ‘n verkeerspolisieman, is al 20 jaar getroud. Sy het het twee dogters en geniet elke oomblik wat sy kan saam met haar drie kleinkinders.
Maar vra jy oor die grootste liefde van haar lewe, is dit beslis die blou uniform vir hierdie polisievrou in murg en been.
“As ek in rewind mode met ‘n jet pack oor my lewe sou kon terugvlieg, besef ek my baie geseënde lewe waar die Here se Hand altyd teenwoordig was. Ek is in graad sewe groot gedoop en dit was my redding en ‘n keerpunt in my lewe.”
“My ouers is geskei toe ek drie was en my ma is oorlede toe ek op skool was. Ek het voltyds by my pa gebly in die lekkerste tye van my grootwordjare. Waar ek was, was my pa en toe ek die man van my drome ontmoet, het my pa by ons gebly. Ons was Thabang en Thabong,” sê Carien met ‘n skewe glimlag.
Carien het in haar pa se voetspore gevolg en by die polisie aangesluit, maar onthou twee pertinente vrouens, Debbie en Nita, wat saam met haar pa gewerk het en die inspirasie was waarom sy besluit het om ‘n polisievrou te word.
“My pa het later jare siek geraak en was 24 uur op suurstof. Hy is in 2014 oorlede.”
Dink jy daaroor, het sy nie net blou bloed by haar pa geërf nie, maar moontlik ook die siektetoestand wat haar so kortwiek.
In 2019 het sy met meer as net normale asma begin sukkel, maar dokters het haar aanhoudend met asma of chroniese obstruktiewe longsiekte (COPD) gediagnoseer.
“As hulle hoor jy rook, dan stop hulle summier hul ondersoeke om die oorsaak van jou toestand te vind en skryf dit aan die rokery toe.”
Gedurende September 2021 was daar onluste in Kemptonpark en het brandende bande haar bors so erg geaffekteer dat sy in die intensiewesorgeenheid beland het.


“‘n Bekende pulmonoloog het na ‘n week vir my gesê dat hy niks vir my kan doen nie en my huis toe gestuur met 24-uur suurstof en die uitspraak dat ek net tot Januarie het om te leef.”
Sy het nie die uitspraak van die dokter aanvaar nie en haarself éérs gedruk en harder gewerk.
“Ek het gesorg dat ek voor my skof begin drie verskillende pompies en genoeg nebuliseerderampules byderhand het. Ek het ekstra hard gewerk en gesorg dat ek my arrestasies maak, want ek is so ongelooflik baie geseënd om ‘n werk te hê waarvoor ek lief is.”
Aan die einde van Januarie 2022 het haar liggaam haar tot stilstand gedwing en sy het by dr. Paul Williams by Milpark-hospitaal uitgekom.
“Die Here is so goed, want vir die eerste keer het ‘n dokter nie in my rookgewoontes vasgekyk nie, maar die rede gesoek waarom ek so siek is.”
Sy is met Alpha-1 Antitrypsin Deficiency gediagnoseer en sy het besef dat dit tien teen een was wat haar pa ook gehad het.

“Dit is ‘n genetiese siekte wat jou longe en/ of jou lewer aanval. In my geval is dit slegs my longe. Ons het met behandeling begin en ek is uiteindelik gelys vir ‘n longoorplanting, want dis my enigste kans op oorlewing.”
“My geloof ry met tye wipplank. Maar die Here los my nie. Ek het al harde gesprekke met Hom gehad en elke keer antwoord Hy my saggies terug met ‘n blessing.”
Carien sê haar man is haar grootste ondersteuner.
“Ons het al hartseer gesprekke gehad en polisse en dokumente in orde gekry, sou die dag aanbreek en die Here my kom haal. Maar elke keer wys die Here vir ons dis nog nie tyd nie. Daar is hoop.”
“Robert en haar dogter stel om die beurt alarms om Carien in die nag by te staan, en sy het meer onlangs ‘n invertor ontvang omdat die kragopwekker se kostes so hoog is tydens beurtkrag,” sê Janene van der Walt, Carien se suster.
“My sussie is konstant moeg, want haar suurstof is te min. Sy kan selfs nie meer eet nie en sê haar liggaam is moeg terwyl sy moedig veg. Ons heldin…”
En dan laat sy hartseer hoor dat Carien reeds al haar kleinkinders se verjaarsdae wat in Desember en Januarie plaasvind, beplan het en partytjie-items by hul ouers laat aflewer het, omdat sy realisties is.
Robert sê hy is erg gestres.
“Die eerlike waarheid is dat ons moet wakker bly om seker te maak dat Carien op die suurstof bly en nie daarsonder in ‘n koma verval nie. Ek kan nie bekostig om diep te slaap nie. Sy is die een wat die familie bymekaar hou en om haar nou so te sien, is nie vir my maklik nie.”

Hulle gaan nie meer baie uit nie, want al gaan sy net dokter toe, is dit ‘n logiestiese beplanning rondom gassilinders, elektrisiteit en vele meer wat haar moegheid, wat deesdae baie meer is, vererger.
“Sy is net by die huis ingehok en ek kan dadelik sien wanneer sy af is. Sy stel doelwitdatums soos verjaarsdae en Kersfees waarvoor sy veg om voor te bly lewe”
Robert sê hy het al baie saam met haar gehuil en smeek meer mense om as orgaanskenkers te registreer.
“Ek hoop sy bly lewe en die longe kom so gou as moontlik, want ons het nog so baie om saam te doen.”
Carien sluit af met: “Asemhaal is ‘n voorreg.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



