LIMPOPO. – Drie beweerde plaasaanvallers, onderskeidelik 26, 29 en 35, is Dinsdag vasgetrek, nadat hulle glo ‘n man en sy vrou by hulle huis op die Maribashoek-plotte buite Mokopane in die Waterberg-distrik oorval en beroof het. Een van die verdagtes is raakgeskiet.
Kol. Malesela Ledwaba sê volgens rapportering was die man (49) in die swembad toe twee onbekende gewapende mans hom glo met ‘n vuurwapen gedreig, gegryp en na die huis, waar sy vrou was, gedwing het. Binne-in die huis het die verdagtes geld geëis. Nadat hulle nie geld kon kry nie, het hulle met ‘n tweerigtingradio en selfoon van die toneel gevlug.
Die polisie en gemeenskapswag saam met plaaslike sekuriteitsdienste is na die misdaadtoneel, waarna ‘n soektog na die verdagtes geloods is.
Ledwaba sê twee van die verdagtes met ‘n motorvoertuig is op die plot in hegtenis geneem. Nog ‘n verdagte wat te voet probeer vlug het, is by Mokopane Game Breeding Centre raakgeskiet en ook in hegtenis geneem. Hy is tans onder polisiebewaking in ‘n hospitaal.
Die polisie het op vier selfone en ‘n grys Renault, wat na bewering tydens die misdaad gebruik is, beslag gelê.
Ledwaba sê nog inhegtenisnemings word verwag.
Die verdagtes sal na verwagting vandag op aanklagte van huisroof in die Mokopane-landdroshof verskyn.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



