Ernstig beseerde bejaarde op plot aangeval – verdagte aangekeer

Deel hierdie storie / Share this story

GROOT-BRAKRIVIER. – Colin Bone (76), wat verlede Sondag 17 September tydens ‘n huisroof op ‘n plot op Friemersheimpad aangeval en die Maandag met ‘n kopbesering in sy huis aangetref is, se beweerde aanvaller (28) is in hegtenis geneem en sy vermiste voertuig teruggevind.

Sers. Christopher Spies sê samewerking met die polisie het hierdie sukses tot gevolg gehad.

Ondersoekwerk in die saak het na Villiersdorp gelei waar gemeenskapslede wat Woensdagaand op patrollie was die vermiste Opel Astra opgemerk het. Dit was naby die polisiestasie met drie slapende insittendes parkeer.

Die polisie is ontbied, waarna die bestuurder vir diefstal van ‘n gesteelde voertuig in hegtenis geneem is en positief met die huisroof op Groot-Brakrivier gekoppel is.

Die verdagte sal na verwagting vandag in die Groot-Brakrivier-landdroshof op aanklagte van huisroof en diefstal van ‘n motorvoertuig verskyn.

Ondersoek duur voort om vas te stel of die verdagte aan nog soortgelyke sake in die area gekoppel kan word.

FiND iT het voorheen soos volg berig:

GROOT-BRAKRIVIER, WES-KAAP. – ‘n Bejaarde man (76) is vermoedelik Sondag 17 September 2023 op sy plot op Rheeboksfontein op die Friemersheimpad aangeval en ernstig beseer.

Lt.kol. Malcolm Pojie sê ‘n persoon wat glo ‘n afspraak met die bejaarde gehad het, het onraad vermoed toe hy op die eiendom aankom en die hek oop vind.

Met aankoms by die woning het hy glo gevind die motorhuisdeur is oopforseer en ‘n motorvoertuig, ‘n Opel Astra-stasiewa met registrasienommer CAW 32187, is vermis.

Hierna het hy glo opgemerk die oop kombuisdeur is met bloedvlekke besmeer, waarna hy die polisie ontbied het.

Met aankoms op die toneel is die bejaarde, wat skaars by sy bewussyn was en nie kon praat nie, met gapende kopwonde aangetref. Hy is deur paramedici op die toneel behandel voordat hy vir verdere mediese behandeling na ‘n hospitaal vervoer is.

Buiten die voertuig is nog eiendom wat ‘n selfoon insluit, vermis.

Forensiese deskundiges het Maandag die misdaadtoneel, waarvan die motief roof en diefstal van ‘n motorvoertuig blyk te wees, vir leidrade gefynkam.

Sake van huisroof en diefstal van ‘n motorvoertuig word ondersoek en enigiemand met inligting word versoek om met die polisie van Groot-Brakrivier in verbinding te tree.

Bron: SAPD

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel