LEES OOK: Agt verloor hul lewens in gru-ongeluk
WES-KAAP. – Swaar reënbuie het groot skade aan geboue, paaie en infrastruktuur in die Wes-Kaap aangerig. Verskeie huise is oorstroom en paaie is gesluit. Drie mense is as vermis aangemeld.
Dit volg na die erge storm wat die Wes-Kaap die naweek getref het. Rampbestuurspanne is op soek na drie mense wat as vermis aangemeld is ná die hewige oornagreën in die Wes-Kaap.
Anton Bredell, die LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Maandag tydens ’n inligtingsessie gesê een persoon is in die Groot-Brakrivier deur die water meegesleur. “Die deel van die pad met die brug is weggespoel met ‘n motor op die brug. Daar was twee mense in die motor en hulle het daarin geslaag om een te red. Hulle soek nog na die ander een, maar dit lyk nie goed nie.”
Die ander twee mense is as vermis aangemeld, het Bredell gesê. Hy het gesê amptenare se grootste bekommernis was die padsluitings. “Al die spanne is op bystand en die opruiming sal moet gebeur, maar ons moet eers deur die storm kom. Die volgende 12 uur gaan baie moeilik wees,” het hy bygevoeg.
Schalk Carstens, waarnemende hoof van die provinsiale rampbestuurseenheid, het gesê die sentrum en al sy entiteite het dae vooruit voorberei vir die koue front. Die swaar weer beweeg nou na die Tuinroete-streek, maar dit is vir eers na vlak 6 afgegradeer.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het verlede week ’n vlak 9-waarskuwing van ontwrigtende reën en stormsterk winde uitgereik. Assesserings oor die omvang van die skade sal mettertyd uitgevoer word wanneer dit veilig is om dit te doen.
Daar is talle padsluitings. Die N2 is onder meer by Botrivier gesluit, met verkeer wat by Swellendam herlei word en die N1 tussen De Doorns en Worcester is tans gesluit met verkeer wat herlei word na die Wolseley-, Ceres- en Trompsbergpasse. Geringe modderstortings is in Victoriaweg, Kampsbaai aangemeld. Verskeie huise is ook in die Overberg-streek oorstroom. Alternatiewe verblyf is by gemeenskapsale gereël. Die R316 Bredasdorp/Napier-pad was oorstroom en twee voertuie is meegesleur nadat motoriste beheer verloor het. Selfs Sir Lowry’s pas was tydelik gesluit vir vervoer. Die Wes-Kaapse regering is voortdurend besig om sy aanlyn platforms by te werk soos die situasie verander.
#WesKaap #Storm #Skade #Weer
Bronne gebruik: Wes-Kaapse regering se persverklaring (26 September 2023); News24.



