BRITS, NOORDWES. – Louis Coetzee (47) en Jaco Kemp (45) het vandag vir ‘n klagte van beweerde moord in die Brits-landdroshof verskyn. Hulle saak is tot Dinsdag 26 September 2023 uitgestel sodat hulle formele borgaansoeke aangehoor kan word.
Lt.kol. Amanda Funani sê ‘n derde verdagte wat glo aan die moordsaak verbind word, is vanoggend in hegtenis geneem.
Dumisani Phakathi (45) is na bewering deur die drie vermoor. Hulle is deur polisielede op patrollie in hegtenis geneem toe Phakhathi se versteekte liggaam agter op hulle bakkie gevind is.
FiND iT het voorheen soos volg berig:
Twee mans, onderskeidelik 45 en 47 jaar oud, is Sondagoggend 17 September 2023 omstreeks 02:00 in Kameeldrift op die R511 vasgetrek met ‘n liggaam van ‘n 45-jarige man agter op hulle bakkie. Die oorledene was glo op die mans se plaas om water te haal en is na bewering aangerand.
Lt.kol. Amanda Funani sê polisielede wat met roetinepatrollies besig was het ‘n steenkoolkleurige Nissan NP 200-bakkie wat verdag voorgekom het, opgemerk.
Die lede het ‘n U-draai gemaak en is agter die bakkie aan, waarna hulle daarin kon slaag om die bakkie met insittendes voor te keer en te deursoek. Tydens die deursoeking is die liggaam van ‘n man, wat met plastieksakke bedek was, ontdek. Die verdagtes het na bewering probeer weghardloop, maar is in hegtenis geneem.
Hulle sal na verwagting vandag vir ‘n klagte van moord in die Brits-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



