Hof beslis anti-apartheidsaktivis Haffejee se dood was nie selfdood nie

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Jong man ‘doodgeslaan’ – ma vra vir getuies om na vore te kom na borg toegestaan is

Die heropening van ’n geregtelike doodsondersoek na die dood van dr. Hoosen Haffejee in 1977 het bevind dat dit nie selfdood was nie en dat die oorlewende polisiebeamptes en ‘n informant aangekla moet word. Haffejee was ’n 26-jarige tandarts en is op 3 Augustus 1977 in veiligheidspolisie-aanhouding oorlede. 

Gedurende die oorspronklike ondersoek het die polisie beweer dat Haffejee homself met sy broek aan ’n deur by Durban se Brighton Beach-polisiestasie opgehang het. In Oktober 2017 het ‘n span van die Prioriteitsmisdaadeenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gelei deur adv. Shubnum Singh, ‘n ondersoek na Haffejee se dood begin.

In Augustus 2019 het die minister van justisie en korrektiewe dienste die regterpresident van die KwaZulu-Natalse afdeling van die hooggeregshof formeel versoek om ’n regter aan te wys om Haffejee se geregtelike doodsondersoek te heropen.

Regter Zaba Nkosi het sy uitspraak in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gelewer op 13 September 2023, en het gesê dat die veiligheidstakbeamptes, James Taylor en Petrus du Toit, hoofsaaklik verantwoordelik was vir Haffejee se dood.

Die hof het die bevindinge van ’n 1978- geregtelike doodsondersoek tersyde gestel wat bevind het dat die 26-jarige tandarts homself in ‘n polisiesel opgehang het.

Regter Nkosi het bevind dat Haffejee aan hartstilstand gesterf het terwyl hy gemartel is, óf terwyl die polisie hom met sy eie broek in die sel verwurg het om dit na selfdood te laat lyk.

#AntiApartheidAktivis #Haffejee #OnsGeskiedenis #Doodsondersoek

Bronne gebruik: SABC Nuus; Foundation for Human Rights.