Ope brief na Klerksdorp-aanval oor gevolge van optrede onder invloed van alkohol

Deel hierdie storie / Share this story

In ‘n Facebook-brief wat aan elke ouer en student gerig is, waarsku die ondertekenaar, ene Hans-Jurie Moolman, teen die gevolge van optrede, soos na bewering in Klerksdorp gebeur het, wanneer beheer onder die invloed van alkohol verloor word.

Die brief is reeds meer as ‘n duisend keer op sosiale media gedeel.

Uit die opskrif blyk dit hierdie brief kom uit die pen van ‘n prokureur wat ook ‘n pa is.

Die duidelike boodskap hieruit is om nie jou toekoms te vernietig in ‘n oomblik waarin jy onder die invloed van alkohol optree sonder om te dink nie.

Lees die brief hier onder:

ELKE OUER én STUDENT moét hierdie lees‼️

AANRANDING, AANRANDING OM ERNSTIG TE BESEER – EEN OOMBLIK EN ‘N TOEKOMS IS VERNIETIG –

VAN ‘n PA (Prokureur) WAT OMGEE

Vandag deel iemand ‘n video van ‘n jong man wat twee mense so aanrand dat hulle bewusteloos op die grond bly lê.

Ons vriende vertel vir ons van hulle kinders wat nouliks by ‘n studentekuierplek van ‘n skermutseling waar die vuiste behoorlik geklap het, ontkom het.

Dan is daar die een of twee wat nie so gelukkig was nie en wakker geword met gebreekte neus of kakebeen of ernstige permanente breinbeserings.

Die hoofverdagte vir die gebrek aan oordeel en ‘n besef van al die gevolge vir die ou wat slaan, is alkohol. Alkohol wat jou sterk en slim maak en alkohol wat jou tussen jou gekuierde vriende die held maak wat ander ou goed ge-….sem het.

Na al die pret en deur ‘n stelsel met die wêreld se tyd kom die lasbrief vir arrestasie of dagvaarding om in die hof te verskyn op strafregtelike klagtes.

Na gelang hoe hard die slagoffer ge….sem was, het die aanklaer die volgende op die spyskaart van klagtes waarvoor almal tronkstraf opgelê kan word:

1) Aanranding

2) Aanranding met die doel om ernstig te beseer

3) Poging tot moord

4) Moord (as die slagoffer as gevolg van bv. en as gevolg van breinbeserings dit nie maak nie).

5) As ‘n gevaarlike hulpmiddel gebruik is om te slaan, sommer ‘n verdere klag by.

Alkohol gaan nie help nie want artikel 1 van Wet 1 van 1988 maak dit moontlik dat met die alkohol saam dieselfde straf as die oorspronklik misdaad opgelê kan word.

By arrestasie en as borg geweier word, moet sakke geskud word om net die sterkman uit die selle te kry, want ons almal weet wat daar gebeur.

Dan begin dit regsrekeninge reën want iemand; (‘n regsgeleerde teen vergoeding) moet nou planne begin maak om seker te maak dat die nuuste modes nie verruil word met die standaard oranje pakkie nie.

Na duisende rande en nagte se wakkerbly is die dit dag van die bevinding en/vonnis.

Miskien is daar genade vir ‘n eerste ootreder van ‘n opgeskorte vonnis, maar vir die res van sy lewe word die beskuldigde lid van die geledere van persone met ‘n kriminele rekord.

‘n Baie slegte verwysing in ‘n land waar werk skaars is.

Vir die wat nie so gelukkig met ‘n opgeskorte vonnis is nie, is ‘n Suid-Afrikaanse tronk (met al die meegaande negatiewe byvoordele) die volgende bestemming. As jy jonk is, kry jy spesiale voorkeur.

Dan kom die bonus besef dat ‘n kans op wapenlisensie vir die toekomstige jaguitstappies iets van die verlede is.

Daardie een oomblik van ‘n verkeerde besluit en sterk wees kan nooit vergoed vir al die gevolge van daardie een simpel kans om sterk te wees nie.

Jong man dink asseblief mooi. Jou toekoms gaan baie langer neem.

Hierdie is nie ‘n preek nie. Dis die lewe.

Hans-Jurie Moolman

Bron: Anita Steyn-Van Zyl Facebook-blad en elders

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel