Munisipale werker glo aan boom vasgeboei – man in hegtenis

Deel hierdie storie / Share this story

EVEREST HEIGHTS, KZN. – ‘n Munispale werker is glo aan ‘n boom in ‘n erf in Miraweg vasgemaak nadat hy die erf ingedwing is. Die huisbewoner is daarop in hegtenis geneem.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê hulle is gebel om die vasgeboeide man te help.

Met aankoms het die huiseienaar aan reaksiebeamptes verduidelik hy het ‘n patrolleerspan in die straat begin, wat persone wat nie in die straat woon nie, nie toegelaat om daar te stap nie. Hy is glo reeds as gevolg van sy “afknouery” van ‘n groter patrolleergroep verwyder.

Die munisipale werker in sy werksklere, ‘n reflekteerbaadjie, is na bewering deur die man ondervra en nadat hy geweier het om hom te antwoord, is hy die erf ingedwing en aan die boom vasgemaak.

Reaksiebeamptes het die man se identiteit nagegaan en die huisbewoner beveel om die man wat beweer dat hy glo aangerand is onmiddellik vry te laat.

Fakazi Mdletshe, ‘n raadslid, het volgens Reaction Unit South Africa op die toneel opgedaag en die huisbewoner daarvan beskuldig dat hy voetgangers en motoriste volgens ras “profileer”. Hy sou ook volgens die raadslid skoolkinders wat in die straat stap met traangas spuit en so rassespanning skep.

Volgens Fakazi is daar reeds glo verskeie klagtes teen die inwoner ontvang, maar uit vrees vir viktimisasie is nog geen kriminele klagtes geopen nie.

Reaksiebeamptes het glo ook al op klagtes teen dieselfde man reageer. Hy het glo ook al besoekers by sy bure in die area toegang geweier.

Die munisipale werker het ‘n kriminele klagte geregistreer en die man is vir ontvoering en aanranding deur die Verulam-polisie in hegtenis geneem.

Foto: Reaction Unit South Africa

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel