VILLIERS, VRYSTAAT. – Vier persone is dood en 16 beseer toe die bestuurder van ‘n Mahindra-bakkie op Saterdag 2 September 2023 omstreeks 20:30 op die R26 ongeveer 5 km van Villiers in ‘n ongeluk betrokke was.
Sers. Jospephine Rani sê na bewering het die bestuurder vir ‘n aankomende voertuig uitgeswaai, beheer verloor en die voertuig het gerol.
Polisielede het die bakkie op sy kant gevind asook twee mans wat reeds oorlede was. Daar word vermoed een van die oorledenes was die bestuurder van die bakkie.
Nadat 18 beseerde passasiers, wat op die agterkant van die bakkie was, vir mediese behandeling na Mafube-hospitaal geneem is, het nog twee gesterf. Rani sê al die oorledenes is uitgeken.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
MaQueen Letoha-Mathae, die LUR van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer in dié provinsie, het haar medelye teenoor familie en vriende van die oorledenes uitgespreek.
Hillary Mophethe, woordvoerder vir die LUR, sê ‘n ligtevoertuig en bakkie was in die ongeluk betrokke. Na bewering het die bestuurder van die voertuig beheer verloor en in die aankomende verkeersbaan ingeswenk. Die bestuurder van die bakkie het uitgeswaai om ‘n tromp-op-botsing te vermy en die voertuig met 20 passasiers het gerol
Drie mans en een vrou is oorlede, waarvan twee op die toneel en twee in die hospitaal.
Die Villiers-polisie ondersoek ‘n strafbare manslag saak.
Bronne: SAPD en Freestate Provincial Government
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



