Goedvoelstorie: Burre Burger kom tot redding toe matriekafskeidmotor afgeskryf is

Deel hierdie storie / Share this story

CALVINIA, WES-KAAP. – Burre Burger van Droogtehulp het onlangs tot ‘n matriekpaartjie se redding gekom toe hulle oorspronklike matriekafskeidmotor kort vantevore afgeskryf is.

Burger vertel hy was vyf dae gelede by Hoër Landbouskool Boland se Ma-en-Seun-oggend waar hy in die ma van Gerrit, ‘n goedgemanierde matriekseun, na wie hy soms as sy eie verwys, vasgeloop het.

Burger, wat vir sy goeie hart bekend is, het sommer dadelik opgemerk iets haper.

Die mamma, wat volgens sy plasing droogte en borskanker op haar pad gehad het, het boonop met ‘n voertuig van die oupa, waarmee die seun leer bestuur het, van die pad buite Calvinia gery en die voertuig moes afgeskryf word. En net daar ontstaan die probleem, omdat die betrokke voertuig die jongman se vervoer na sy matriekafskeid sou wees.

Burger sê toe hy hoor die seun se droommatriekafskeidmotor is eintlik ‘n Ford Mustang, het hy nie op hom laat wag nie.

“Sy sê toe vir my sy grootste wens is eintlik ‘n Ford Mustang… En as ‘n seun met sulke mooi maniere en behulpsame gedrag ‘n Mustang soek en dit sy droom is en hy ‘n Hantam Boerseun is, moet ons mos help.”

Hy vertel hy het een oproep na Philip van WP Motors gemaak, wat op sy beurt vir Gerrit Stoffberg van Landikhaya Security gekontak het.

En siedaar, Burger sê binne vyf minute het die seun sy droommotor vir sy matriekafskeid gehad. Hy het ook die bestuurder, John Schultz, wat ‘n Saterdag opgeoffer het om Gerrit rond te ry, bedank.

“Saam kan ons, dit begin net by ons!!! Jy kan nie jou hart vir Jesus gee as jy nie bereid is om dit vir mense te gee nie.”

Bron: Burre Burger

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel