Kyk: Altesaam 13 verdagtes, waarvan 2 metropolisiebeamptes, aangekeer

Deel hierdie storie / Share this story

BENONI, GAUTENG. – Dertien verdagtes, onder wie twee metropolisiebeamptes, is Saterdag 19 Augustus 2023 op die N12-hoofweg in Benoni, vasgetrek. Hulle word deur aanklagte van vragmotorkaping, die besit van ongelisensieeerde vuurwapens, die besit van gekaapte voertuie en ‘n storingstoestel (jamming device), asook die besit van ‘n gekaapte vragmotor met vrag, in die gesig gestaar.

Kol. Dimaktso Nevhuhulwi sê lede het ‘n wenk ontvang en het op die hoofweg plek ingeneem waar hulle die vragmotor, volgens beskrywing, opgemerk het.

Tydens inhegtenisneming het die polisie op vyf voertuie, twee vuurwapens, ‘n storingstoestel en ‘n gekaapte vragmotor en vrag met ‘n geskatte waarde van R3 200 000, asook ‘n metropolisie-uniform beslag gelê.

Twee van die voertuie is glo in Olifantsfontein en Sebenza gesteel.

Nevhuhulwi sê die verdagtes kan moontlik met ander sake verbind word. Die ondersoek duur voort.

Al die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

Foto’s: SAPD

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel