Sekuriteitsbeampte deur kamera in senior staatsaanklaer se kantoor ‘gevang’

Deel hierdie storie / Share this story

KLERKSDORP, NOORDWES. – Kgangetsile Motsumi (50), ‘n sekuriteitsbeampte by die Klerksdorp-landdroshof, is Donderdag 17 Augustus 2023 vir aanklagte van huisbraak en diefstal deur die Valke in hegtenis geneem.

Henry Mamothame, NVG-woordvoerder, sê Motsumi het ‘n senior staatsaanklaer se kantoor op Sondag 23 Julie binnegegaan. Die advokaat het reeds geruime tyd onregmatige toegang tot haar kantoor vermoed en ‘n kamera wat sy met haar selfoon verbind, geïnstalleer.

Sy is die betrokke Sondag na haar kantoor en het die kamera ontkoppel gevind. Sy het die opnames deurgegaan en na bewering gesien hoe Motsumi deur haar laaie en dokumente krap. Hy het blykbaar toe agtergekom ‘n kamera neem hom op, dit afgeskakel en die kantoor verlaat.

Die hofsaak is vir verdere ondersoek tot 12 September uitgestel.

Volgens Mamothame is soortgelyke klagtes in die hofgebou aangemeld, maar dit is nog nie aan ‘n spesifieke persoon verbind nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel