FiND iT het voorheen berig van Deon Nel (30), ‘n boer, wat sedert 5 Julie 2023 van Wolmaransstad in Noordwes, vermis is. Nadat ‘n losprys geëis is, is die saak van ‘n vermiste persoon na een van ontvoering verander. ‘n Beloning van R100 000 om Nel op te spoor, is ook reeds in Julie aangekondig.
Brig. Sabata Mokgwabone het enkele dae na Nel se verdwyning gesê ‘n man en vrou is Vrydag 7 Julie 2023 in ‘n huis in Randlespark, Klerksdorp, vir die onwettige besit van vermoedelik gesteelde eiendom (wat aan Nel behoort het) in hegtenis geneem. Met verdere ondersoek is bloedvlekke in die huis ontdek. Hulle het op 10 Julie in die Klerksdorp-hof verskyn, waarna die saak tot 21 Augustus uitgestel is, maar beide is steeds in aanhouding.
‘n Derde persoon is na ondervraging laat gaan.
Kol. Adéle Myburgh het aan FiND iT bevestig dat die myn se soekspanne weer gister ‘n skag deursoek het. Myburgh het gesê verskeie voortdurende soektogte het plaasgevind, veral nadat die polisie inligting ontvang het dat Nel se liggaam vermoedelik in ‘n skag gegooi is. Alhoewel sy liggaam nog nie gevind is nie, is DNS-toetse gedoen waarvan die uitslae afgewag word.
Volgens inligting het Nel die betrokke aand van sy ontvoering ‘n plaaslike kroeg besoek en het nie teruggekeer huis toe nie.
Nel het die aand met sy Mazda BT 50 gery wat in Maseru, Lesotho, gevind is.
Hy is van medium bou en is 1,75 m lank, weeg 85 kg en was in ‘n bruin kortbroek, kamoefleerbaadjie, leer cowboy-hoed en Grasshopper-skoene geklee. Nel het bruin oë, bruin hare van medium lengte en ‘n kroon op sy regteroogtand. Uitkenbare merke is littekens op sy ken, kop, knieë en elmboë.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



