Skuldige verkragter van vele sake sterf in hofselle

Deel hierdie storie / Share this story

Johannes Jojo Shabangu (35) is in die hooggeregshof van Noordwes wat in die Ga-Rankuwa-streekshof gesit het, verhoor. Hy het op 14 aanklagte van verkragting en 11 aanklagte van roof met verswarende omstandighede skuldig gepleit, waarna hy skuldig bevind is. Hy het agterna, terwyl die hof in reses was, in die hofselle inmekaargesak en gesterf.

Henry Mamothame, streekswoordvoerder vir die NVG in Noordwes, sê Shabangu se pleitverklaring was deur regter André Peterson ontvang wat hom dienooreenkomstig op alle aanklagte teen hom skuldig bevind het.

Die saak is na Donderdag 3 Augustus oorgeskuif sodat slagofferimpakverklarings voorgelees kon word, alvorens vonnisoplegging kon plaasvind, en Shabangu mediese behandeling kon ontvang.

Die hof het gehoor dat Shabangu deur paramedici dood verklaar is en die verklaringsertifikaat is aan regter Peterson oorhandig.

Regter Peterson het die hofverrigtinge as afgehandel verklaar en gelas dat die doodsertifikaat by die griffier van die hooggeregshof, Noordwes-divisie, liasseer word. Hy het verder beveel dat ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer word om die oorsaak van Shabangu se dood te bepaal.

Shabangu het tussen Julie 2012 en Desember 2019 saam met onbekende makkers vroue in hul wonings in Winterveld in die Odi-distrik, verkrag en beroof. In sommige van die gevalle is paartjies ingewag waarna die man aangerand en beroof is van besittings en die vrou dan om die beurt verkrag is.

In sommige van die voorvalle is dieselfde modus operandi met huisbrake toegepas. Tydens nog voorvalle sou groepe vroue voorgekeer en beroof word voordat een vrou uit die groep gekies word wat dan verkrag is.

Die jongste slagoffer was 14 jaar oud in 2015 oe sy ‘n slagoffer was.

Shabangu se skuldigpleitverklaring is deur sy prokureur in die hof voorgelees waarin hy verantwoordelikheid vir al die aanklagtes teen hom aanvaar het en hy vergifnis van sy slagoffers gevra het.

Dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging in Noordwes tesame met lt.genl. Sello Kwena, het adv. Nangomso Goloda en sers. Molwantoa Rapakgadi vir die suksevolle skuldigbevinding geprys.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel