Crawford International College, die privaat skool, het in ‘n verklaring bevestig dat ‘n aflosonderwyseres by hulle Pretoria-kampus geskors is.
Sy het glo aanstoot gegee nadat sy verkeerde woorde op ‘n witbord geskryf het.
‘n Video van die voorval wat op 24 Julie 2023 plaasgevind het, word tans wyd op sosiale media versprei.
In die video kan gesien word hoe sy ondermeer die n-woord, asook die k-woord tydens ‘n gr. 8 Engelse les op die bord skryf. Dié woorde verwys na swart mense in Amerika, en Suid-Afrika.
Die skool het die voorval in ‘n amptelike verklaring veroordeel en sê hulle sal nie enige vorm van beweerde rassisme, vooroordeel of diskriminasie by hulle skool duld nie.
Die onderwyseres was volgens die kollege se hoof, Cheryl Naidoo, ‘n korttermyn plaasvervanger, terwyl die permanente onderwyser met siekverlof is. “Die onderwyseres is geskors, ons het ‘n klag by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SACE) ingedien, en ons sal met regstappe begin.”
Sy sê hulle is bitter teleurgesteld met die voorval, en die seer wat dit veroorsaak het vir die leerlinge, ouers en Crawford-gemeenskap. Volgens Naidoo is berading vir die betrokke leerlinge aangebied.
“Ons verstaan verder dat hierdie voorval die kalklig geplaas het op hoe ons aflosonderwysers aanstel, en ons sal onmiddellik aanpassings aan ons proses maak.”
Die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het óók die video op sosiale media gedeel en dit as “gemors” bestempel. Dit is onduidelik wat die tema van dié betrokke les was.
Die woorde in die foto is verbloem.




