Lauren Dickason het in die maande voor die noodlottige dag waarop sy erken dat sy haar kinders versmoor het, verskeie metodes op die internet gesoek om kinders te oordoseer.
Alhoewel sy erken het dat sy hulle versmoor het, pleit sy onskuldig aan moord en beroep haar op kranksinnigheid of kindermoord.
Boodskappe op Dickason se foon stel aan die hof ‘n geestesongestelde en emosionele vrou voor. Doktersbriewe aangaande haar geestesgesondheid en geskiedenis wat deel van die emigrasieproses was, is in die hof openbaar. Boodskappe vanaf 2016 tot ure voor die kinders se dood is aan die hof voorgehou. Dit het oor verskeie onderwerpe gehandel – oulike foto’s en video’s van die kinders, die beter toekoms wat vir die kinders beoog is, die effek van Suid-Afrika se probleme met geweld, protesaksies, ens. op haar, asook struikelblokke wat deurentyd met die emigrasieproses opgeduik het. Die verdediging het op boodskappe, foto’s ensovoorts gefokus om ‘n liefdevolle ma te skets.
‘n Forensiese deskundige het aan die hof voorgehou dat soektogte glo gedurende Julie en Augustus 2021 op Dickason se selfoon gemaak was om kinders te oordoseer. Die soekgeskiedenis is agterna uitgewis, maar kon herwin word. Die sleutelwoorde wat gebruik was, was onder andere; “lethal dosage,” “drugs to overdose kids,” “most effedctive overdose in kids” en “carbon monoxide death.” Dickason se soektogte het ook “I hate what lockdown is making me” en “how tot deal with anxiety due to Covid”. Die betrokke dag van die kinders se dood se foonaktiwiteit is ook in die hof ontbloot.
Alhoewel die staat erken dat Dickason by tye aan ernstige depressie gely het, hou hul voet by stuk dat sy geweet het wat sy doen toe sy haar drie dogters vermoor het.
Die verdediging verwerp dit en sê Dickason was geensins wel nie en terwyl diegene na aan haar oor haar bekommerd was, het hulle nie besef hoe erg dit was tot dit te laat was nie.
Gedurende die eerste week van haar verhoor het die hof gehoor van Dickason se fertiliteitsgeskiedenis. ‘n Babadogter, Sarah, is op 18 weke van swangerskap verloor. Na talle onsuksesvolle in vitro-bevrugtings is skenkereierselle gebruik om die drie dogters te verwek. Die hof het ook gehoor van die gesin se probleme met die emigrasieproses en die stresvolle inperking en isolasie tydens die Covid-19 pandemie.
Dickason se dokter het twee briewe aangaande haar psigiatriese toestand en behandeling wat in 2020 en 2021 gedateer is voorsien. Briewe het bevestig Dickason ly aan ernstige depressie, maar dat dit goed gestabiliseer is met twee tipes voorskrifmedikasie. Sy het die dokter ‘n dag voor die beweerde moorde gekontak vir meer gespesifiseerde inligting op aanvraag van haar emigrasie-adviseur. Sy het vir die dokter gesê dat sy geen medikasie in daardie stadium gebruik nie.
Tydens hul dood in Timaru was Leané slegs twee dae by haar nuwe skool en die tweeling slegs een dag by die kleuterskool.
Bronne: NZ Herald, 1News en Newshub
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



