Waarskuwing! Nie vir sensitiewe lesers nie
Die Laura Dickason-hofsaak in Nieu-Seeland het sy tweede week in die hooggeregshof in Christchurch bereik. Dickason ontken dat sy haar kinders in September 2021 vermoor het en gebruik die verweer van waansin en kindermoord.
Haar polisie-onderhoud met speurder Michael Kneebone is aan die hof en jurie gespeel. Dit was ‘n dag na die moorde en sy was pas uit die hospitaal ontslaan.
Volgens 1News het sy instemmend geknik toe die speurder prosedures aan haar verduidelik het, maar sy was met tye ontsteld en dit was moeilik om haar te verstaan.
Gedurende die opname het sy stresvolle ervaringe met immigrasie en Covid-19 beskryf – dat sy die kinders heeltyd, sonder ‘n breek, by haar gehad het en dat dit haar oorweldig het. Sy het ook verduidelik dat sy vir hulle geen toekoms daar gesien het nie, aangesien “iets” oor visums die vorige dag deurgekom het.
Kneebone het haar gevra wat die aand vantevore gebeur het. Dickason het gehuil terwyl sy verduidelik het dat die kinders “wild” was en op banke gespring het en dat hulle nie na haar geluister het nie. Sy het hulle saam in die slaapkamer laat lê en het hulle versmoor.
“I made them all go lie in the bedroom so that they were together, but during the end I basically had to suffocate them.”
Na die tyd het sy hulle in die bed gesit.
Die speurder het gevra of dit iets was waaraan sy al vir ‘n ruk gedink het en of sy reeds in SA so gevoel het. Sy het bevestig dat sy daaraan gedink het om ‘n manier te vind om die druk te verlig. Sy het genoem dat sy die gedagte tydens die immigrasieproses ondervind het, maar as onbelangrik eenkant toe geskuif het. Sy het toe gesê dat sy nou drie dooie kinders het.
Kneebone het weer gevra of sy voorheen sulke gedagtes gehad het om haar kinders seer te maak, waarop sy geantwoord het nie tot die mate van wat die vorige aand gebeur het nie. Sy het gesê dat iets haar geprikkel (trigger) het en dat dit tot die einde gelei het.
“Not to the degree of what happened last night, no… last night something just triggered me and I just, just the end.”
Hierna is sy gevra wat gebeur het toe Graham Dickason, haar man, die huis verlaat het om ‘n werksfunksie by te woon.
Sy het gesê die kinders was buite beheer, hulle het glad nie vir haar geluister nie en die inperking het haar geleer sy ken nie haar kinders nie. Sy sê verder sy het gedink dinge sou met die trek anders wees, maar dit het net nuwe probleme na vore gebring. Dickason is na die motorhuis waar sy volgens beriggewing “iets gesoek het wat sal werk,” en het bevestig sy het aan die kinders gesê sy maak halssnoere.
Kneebone het haar oor die meisies se reaksie gevra en of hul enigiets gesê het. Sy het gesê die twee jonger meisies het niks gesê nie, maar die ouer meisie was kwaad en wou weet waarom sy dit aan hulle doen omdat sy die beste mamma is en dat sy haar lief het. Sy het verder verduidelik Karla, een van die tweeling, was die laaste tyd meer aaklig teenoor haar en dit is waarom sy haar eerste doodgemaak het.
“Not the two little ones, but the oldest one was very angry and she wants to know why I’m doing this to them because I’m the best mum and she loves me.”
“The first twin (Karla) was being really, really horrible to me lately… that’s why I did her first.”
Die speurder het haar hierna gevra of sy geweet het dat die kinders dood is en of sy gekyk het of hul enige tekens van lewe toon, waarop sy gesê het sy het vir hul harrtklop en polsslag geluister en toe besluit om iets aan haarself te doen. Sy het gesê sy wou doodgaan en het medikasie geneem.
Kneebone het haar gevra of sy gedink het die trek na Nieu-Seeland sou ‘n “fix it” wees en of dit geregverdig is om so te dink, wat sy met ‘n kopknik bevestig het.
Sy het voorts verduidelik hoe sy “alleen tyd” vir haarself gemis het.
Op ‘n vraag om haar dogters se persoonlikhede te beskryf, het sy Leané as ‘n dromer beskryf, maar gesê sy het “nie ore nie”. Die speurder het gevra of sy nie luister nie en Dickason het gesê sy luister nie, maar is ‘n liefdevolle klein dogtertjie.
Karla is as vurig met ‘n humeur wat beide pa en ma bang maak, beskryf.
Maya is as gelukkig bestempel, wat vir almal lag en glimlag, maar Dickason het genoem sy gaan ook op die oomblik die “terrible two’s” deur.
Dickason het voorts verduidelik sy het nie ‘n oombliklike liefde vir haar kinders na geboorte ervaar nie. Sy het nie geweet waarvan mense praat nie en het gedink daar is iets met haar fout, maar sy het haar bes probeer. Sy het genoem die kinders het hul pa bo haar verkies.
Sy het wat sy gedoen het as onomkeerbaar beskryf en gesê sy het die dag van die moorde vir die eerste keer in vier maande tyd vir haarself gehad. Sy het met ‘n warmwaterbottel in die bed gekruip om alles te prosesseer.
Dickason het gesê sy het die betrokke dag die tweeling by die kleuterskool gaan haal en Karla het ‘n uitbarsting (tantrum) in die voertuig gehad. Sy het vir hulle aandete gegee en hulle was rustig voor die televisie, maar toe haar man ry, het die kinders met hul “hijinks” begin en sy kon net nie meer nie.
“I was so tired, screaming, I was saying no.”
Voordat die video-opname met die onderhoud wat speurder Kneebone met Dickason gevoer het in die hof gespeel is, is nog ‘n offisier ondervra.
Karryn Beaton, die prokureur vir die verdediging, het gevra wat die polisie gedoen het om seker te maak dat Dickason in ‘n geskikte toestand vir ‘n onderhoud was.
Die polisie-offisier het geantwoord die dokter ht gesê daar kon met gemak met Dickason gepraat word en na haar mening en waarneming het sy ten volle kognitief voorgekom. Sy het aan die gesprek deelgeneem en was beleefd en niks het haar rede tot kommer oor Dickason gegee nie.
Beaton het reageer dat ‘n psigiater Dickason die Saterdagoggend geassesser het met die volgende notas: “Initial impression on brief assessment, depression severe with possible psychosis… will need further longitudinal assessment to verify or otherwise, as in acute shock”.
Die polisie-offisier het aan Beaton gesê sy was nie van die assesering bewus nie.
“There was nothing in the way she presented that made me think she was not suitable to speak with.”
Bronne: 1News, NewstalkZB en Newshub
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



