‘n Autopax-bus was Vrydagoggend 21 Julie 2023 in ‘n tromp-op botsing met ‘n vragmotor op die N6 naby Smithfield, in die Vrystaat, betrokke.
Luidens ‘n verklaring wat deur die maatskappy uitgereik is, was die bus deur die Vrystaat op pad vanaf Johannesburg na Idutywa in die Oos-Kaap.
“’n Voorlopige verslag dui daarop dat die vragmotor in aankomende verkeer inbeweeg het en reg van voor met die bus gebots het. 43 passasiers word vir beserings by die naaste hospitaal behandel.
Vyf passasiers het hul lewens verloor. Die bestuurders van albei voertuie is ook in die ongeluk dood.
“Ons is jammer oor die veelvuldige lewensverlies as gevolg van hierdie verskriklike ongeluk. Ons hoop dat diegene wat beserings opgedoen het, vinnig sal herstel. Ons betuig ons meegevoel met die families van diegene wat hul geliefdes verloor het,” sê Neil Roesch, uitvoerende hoof van Autopax.



