Drie mans wat glo brandstof vanuit hul maatskappyvragmotors gesteel het, is in hegtenis geneem. Altesaam 200 liter diesel en ‘n bakkie wat tydens die beweerde misdaad gebruik is, is Vrydagmiddag deur lede van Reaction Unit South Africa (Rusa) teruggevind.
Reaksiebeamptes wat die gebied gepatrolleer het, het omstreeks 15:43 bykomende bystand versoek nadat hulle drie mans opgemerk het wat glo brandstof vanuit drie Mercedes-Benz-werkvragmotors, wat in ‘n afgesonderde area in Hazelmere, KZN, geparkeer was, gesteel het. Beamptes het glo gesien hoe die bestuurders 25 liter-dromme in ‘n wit Isuzu-bakkie laai.
Rusa-lede het die toneel genader toe die bestuurders te voet gevlug het. Die eienaar van die Isuzu-bakkie het weggejaag, maar sy voertuig agtergelaat toe hy ‘n doodloopstraat bereik. Reaksiebeamptes het die verdagtes te voet agternagesit en twee van hulle aangekeer. ’n Derde verdagte het teruggedraai en homself oorgegee. Die eienaar van die Isuzu-bakkie is steeds op vrye voet.
Tydens ‘n ondervraging het die bestuurder reaksiebeamptes glo ingelig dat hulle vanaf Januarie 2023 weekliks diesel steel. Hy het ook beweer dat die eienaar van die Isuzu-bakkie verskeie bestuurders van verskillende maatskappye gewerf het om hom van gesteelde diesel te voorsien. Die bestuurders word glo R300 per 25 liter-drom betaal.
Die verdagtes en bewysstukke is aan die Verulam-SAPD vir verdere ondersoek oorhandig.



