Veroordeelde ‘stasiemoordenaar’ vrygelaat

Deel hierdie storie / Share this story

Die veroordeelde kindermoordenaar, bekend as die “Station Strangler”, Norman Afzal Simons (56), is op 20 Julie 2023 uit die tronk vrygelaat. Hy het 28 jaar tronkstraf uitgedien nadat hy tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir die ontvoering en moord op Elroy van Rooyen (10) in 1994.

Women for Change berig Simons is daarvan beskuldig dat hy ‘n reeksmoordenaar was toe die lyke van 22 seuns tussen 1986 en 1994 in vlak grafte in Kaapstad gevind is. Hy is egter net skuldig bevind aan die moord en ontvoering van een kind.

Volgens die departement van korrektiewe dienste sal Simons by 22 ander paroollede aansluit, insluitend hoërisiko-paroolgangers wat in die Parow-omgewing woon.

Simon se streng paroolvoorwaardes sluit in 24 uur-huisarres vir die res van sy lewe. Hy sal vier uur per dag toegelaat word om werk en mediese hulp te soek en by die korrektiewe dienste se kantore aan te doen vir onder meer programme en vergaderings. Hy sal nie in die teenwoordigheid van kinders toegelaat word of om met die media te praat nie. Indien enige van hierdie voorwaardes oortree word, sal hy weer in hegtenis geneem word.