Sekere dele van die bekende komponis, Ludwig von Beethoven, se skedel is na Wene, Oostenryk teruggeneem nadat ‘n Amerikaanse erfgenaam, Paul Kaufmann, die fragmente geskenk het. Hierdie fragmente is aan die mediese universiteit van Wene oorhandig vir ‘n ondersoek na die siektes waaraan Beethoven gely het, asook om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Beethoven het in 1827 op 56-jarige ouderdom gesterf en het gedurende sy hele lewe met verskeie siektes gesukkel. Hy het uitdruklik versoek dat sy liggaam na sy dood ontleed word vir studie, berig CNN.
Volgens berigte het ‘n familielid van Kaufmann die beendere in 1863 verkry toe Beethoven se liggaam opgegrawe is. Die ontleedproses sal nou plaasvind om te bevestig dat die betrokke fragmente inderdaad van die beroemde komponis se skedel afkomstig is.
In die loop van sy 56 jaar het Beethoven aan progressiewe gehoorverlies, sowel as gastro-intestinale probleme en lewersiekte gely.



