Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommisaris in Limpopo, het ‘n onmiddellike soektog gelas na onbekende manlike verdagtes wat na bewering ‘n 41-jarige kroegeienaar Saterdag kort voor middernag in Makhado in die Vhembe-distrik doodgeskiet het.
Die polisie is ingelig oor ‘n skietvoorval en is vinnig na die gebied. Met hul aankoms het hulle die lewelose liggaam van die kroegeienaar gevind. Die oorledene het veelvuldige skietwonde aan die bolyf opgedoen.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat twee onbekende mans die perseel gewapen met vuurwapens binnegegaan het en lukraak begin skiet het. Vyf slagoffers het tydens die skietery beserings opgedoen.
Daar word verder geglo dat die verdagtes in ‘n wit VW Polo en silwer Grys Mercedes-Benz met onbekende registrasienommers van die misdaadtoneel gevlug het.
Die motief vir die voorval is nog onbekend.



