Lewelose liggaam agter Baywest Mall-advertensiebord gevind

Deel hierdie storie / Share this story

AfriForum se Walker Drive-buurtwag in Sherwood, Port Elizabeth, het op 27 Junie ondersteuning op ’n toneel gebied waar ’n liggaam gevind is. Dit volg nadat ’n noodroep ontvang is van ’n lewelose liggaam wat agter ’n Baywest Mall-advertensiebord lê. Met hul aankoms het die buurtwag die SAPD, plaaslike veiligheidsmaatskappye en ander nooddienste na die toneel ontbied.

Die buurtwag het die toneel intussen beveilig dat geen leidrade verlore gaan nie. Die SAPD se speurders het onmiddellik die toneel met hul aankoms oorgeneem.

“Ons bedank die verskillende veiligheidsinstansies – waaronder die SAPD, Atlas Security, Omega Risk Solutions, Extreme Security en CityWide Security – wat binne minute op die toneel was,” sê Hannes Oosthuizen, leier van AfriForum se Walker Drive-buurtwag.

Die Walker Drive-buurtwag het op 26 Junie ook op ’n noodroep gereageer oor ’n man onder ’n brug oor die N2 wat nie by sy volle bewussyn was nie. Met hul aankoms het die buurtwag inligting aan Atlas Security gegee wat ’n metro-ambulans na die toneel ontbied het. Die nooddienste het die beseerde na die hospitaal geneem.

“Ons AfriForum-buurtwaglede reageer gereeld op noodroepe op hul sosiale en noodplatforms. Ons buurtwaglede is bewus van die gevare wat elke situasie inhou en word toegerus met alle nodige toerusting en kennis om hulself te beveilig. Hulle ontvang ook opleiding oor onder meer toneelhantering, regsaspekte en patrollies om te verseker dat hulle die gemeenskap binne die raamwerk van die wet kan ondersteun,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Hierdie voorvalle is weereens ’n bewys daarvan dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Dit skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die gebied hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,” sluit Van der Walt af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel