Student op kampus doodgesteek – saak vir borgtogaansoek uitgestel

Deel hierdie storie / Share this story

Zimkhitha Ntshisela (20) is op 6 Junie 2023 brutaal in haar blyplek te Nelson Mandela-universiteitkampus op George, doodgesteek.

Sy was ‘n student in haar tweede jaar van toerismebestuur, wat daarvan gehou het om sokker te speel.

Women For Change sê Luyanda Mahlanz (22), haar kêrel wat beskuldig word van haar brutale moord, is in hegtenis geneem.

Sers. Christopher Spies het die voorval bevestig en gesê George-speurders ondersoek die saak wat die betrokke dag omstreeks 12:50 plaasgevind het.

Met die polisie se aankoms op die toneel is die slagoffer met verskeie steekwonde aan haar liggaam binne ‘n ambulans gevind. Paramedici het haar dood verklaar.

Na wat beweer word, is sy in haar slaapkamer op kampus aangeval, waarna misdaadtoneeldeskundiges die toneel vir leidrade gefynkam het.

Spies sê voorts ‘n 22-jarige man is later in hegtenis geneem en het Donderdag 8 Junie 2023 op ‘n klag van moord in die George-landdroshof verskyn.

Die saak is tot 5 Julie uitgestel vir die aanhoor van ‘n formele borgtogaansoek, terwyl die beskuldigde in aanhouding bly.

Die motief vir die moord, wat nog vasgestel moet word, vorm deel van die polisie-ondersoek wat voortduur.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.