Dit is met ‘n swaar hart en diep hartseer dat FiND iT die nuus deel van die afsterwe van ons dierbare medewerker en vriend, Hein Boshoff (27).
Jeanne-Mari Boshoff (30), Hein se suster, het aan FiND iT bevestig Hein is gistermiddag oorlede. “Ek en my ma, Marthina, is nog baie geskok. Woorde kan nie beskryf hoe seer dit is nie. Ek’t nooit hierdie pyn gevoel nie. Dis my bababoetie.” Hein sou op 2 Desember sy 28ste verjaarsdag vier.
Hein was die redakteur van die baie bekende en suksesvolle AfriNUUS-nuuswebblad en ook medewerker van FiND iT.
Jana Grobbelaar, redakteur van FiND iT, sê Hein was ‘n uitsonderlike individu wie se passie vir sy werk, politiek en nuus merkwaardig was.
“Hein se toewyding aan sy werk was duidelik vir almal wat die voorreg gehad het om met hom in aanraking te kom. Sy meedoënlose strewe na waarheid, sy onwrikbare integriteit en sy onvermoeide pogings om betroubare en insiggewende nuus te lewer, het hom ‘n onskatbare bate vir nuus in Suid-Afrika gemaak.”
Grobbelaar sê Hein was meer as net ‘n talentvolle joernalis en redakteur, hy was ‘n baken van inspirasie. “Sy passie vir sy werk het van binne gestraal en ‘n vuur in almal om hom aangesteek. Hy was werklik ‘n inspirasie vir ons almal. As Hein weggespring het, moes ons skarrel om by te hou en hy het ‘n ‘vibe’ gebring wat almal kon aanvoel.”
Behalwe vir sy professionele prestasies, was Hein ‘n vriendelike, warmhartige en opregte mens. “Hy was meer as net ‘n kollega en ons almal is in absolute skok. Terwyl ons treur oor die verlies van Hein – en die nuus self nog verwerk – wil ons ook sy merkwaardige lewe, sy onmeetlike bydraes en die blywende nalatenskap wat hy agterlaat, vier. In sy afwesigheid moet ons hom eer deur die fakkel wat hy aangesteek het vorentoe te dra. Ons harte gaan uit na Jeanne-Mari en Hein se ma, Martina. Hein was ongelooflik lief vir sy familie. Rus in vrede, liewe Hein, met die wete dat jou nalatenskap sal voortgaan.”



