Eggo-grotte Claassens-moorde, vorige werker vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

Foto: SAPD

Anneke Claassen (73) en Hennie Claassen (77) is Saterdag 3 Junie 2023 omstreeks 13:00 by die hotel by die Eggo-grotte in Orighstad, Limpopo eers gemartel en toe lewendig aan die brand gesteek, waarna beide dood is.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê ‘n verdagte (30) is omstreeks 01:00 vanoggend waar hy in Tembisa, Gauteng provinsie geskuil het, in hegtenis geneem.

Hierdie is ‘n deurbraak in die grusame huisroof en moordsake van beide oorledenes.

Beide die oorledenes se verkoolde liggame is in twee aparte geboue gekry.

Tydens die voorlopige ondersoek is bekend gemaak dat ‘n onbekende swart man gesien is wat van die toneel met ‘n balaclava aan, gevlug het.

Maksimum hulpbronne is deur die provinsiale kommissaris gemobiliseer om die verdagte op te spoor.

‘n Span bestaande uit die provinsiale opsporingseenheid in samewerking met Bosveld Misdaad Ondersoeke het onverpoosd aan die saak gewerk.

Inligting wat deur die span opgevolg is het tot by die beskuldigde gelei.

Hy is ‘n gewese werker van die hotel en is positief aan die misdaad gekoppel.

Lt.genl. Thembi Hadebe het die span geprys vir hul ondersoek en inhegtenisneming wat gemaak is.

“The swift detective work and joint efforts of this team is highly commendable,” het Hadebe gesê.

Die verdagte sal na verwagting op klagtes van huisroof, twee moorde en brandstigting in die Praktiseer-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.