Geliefde onnie van Hoërskool Brandwag se vrou in koma

Deel hierdie storie / Share this story

Die Hoërskool Brandwag in Benoni het op sosiale media gevra dat die gemeenskap hande vat om een van sy jarelange onderwysers, Ig de Vries, by te staan terwyl sy vrou in ‘n koma is.

“Vanaf 1981 is mnr. Ig de Vries ‘n onderwyser by Hoërskool Brandwag in Benoni. Hy is geliefd onder die kinders en die gemeenskap. Mnr. Ig is bekend as “my favourite onnie” onder talle leerders,” sê die skool.

In 2022 het De Vries se vrou, Francis, ook bekend in die gemeenskap as dagmoeder vir baie kinders, skielik siek geword en is tans in ‘n koma.

Die skool sê die gesin se mediese uitgawes is baie hoog en beloop R20 000 per maand.

Sy word tuis deur twee voltydse verpleegsters versorg. Beurtkrag maak dit ook nie makliker nie. Addisionele krag word benodig om die lewensnoodsaaklike masjiene aan die gang te hou.

“Dus doen ons ‘n beroep op die gemeenskap om hande te vat en mnr. Ig finansieel by te staan in sy tyd van nood. Die kleinste bydraes kan saam ‘n groot verskil maak.”