Vrystaat-polisie het gedurende Mei 2023 ‘n totaal van 19 verdagtes vir ses plaasverwante insidente in die provinsie in hegtenis geneem.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê nie net het hulle die inhegtenisnemings gemaak nie, maar kon ook daarin slaag om die meeste van die verdagtes in aanhouding te hou en borg te opponeer.
Earle noem die gevalle waarin suksesvolle deurbraak gemaak is.
Lance Arthur da Silva (62) is Donderdag 4 Mei 2023 met ‘n skietwond in sy slaap in die hoofslaapkamer van die plaas Windpoort in Rouxville-distrik gevind. Armand Opperman, wat saam met hom op die plaas gewoon het, het gevlug en is die volgende dag in Gqeberha in hegtenis geneem. Hy het Maandag 29 Mei sy borgaansoek laat vaar. Hy bly in aanhouding tot die saak weer op 3 Julie in die hof vervat word.
‘n Huisroof en moord het op Gelukplaas in Kroonstad plaasgevind, waartydens verdagtes twee paartjies in die plaashuis aangeval het. Toe die verdagtes vlug, is nog ‘n paartjie geteiken en een persoon doodgeskiet. Sera Letuka (22), Sandie Kheliwe (36) en Lesole Poulo (37) is tussen 5 en 8 Mei in hegtenis geneem. Al drie het in die Kroonstrad-landdroshof aansoek gedoen vir borg, wat teengestaan is. Hulle is in aanhouding en sal weer op 6 Junie in die hof verskyn.
Adames Paulus Stemmett (54), sy vrou en ‘n vriendin is op 17 Mei 2023 op The Heights Farm in Senekal oorval en beroof toe hulle huis toe is. Fokotho Tlaitlai (37) is kort daarna in hegtenis geneem. Nthabiseng Mokwena (33) wat in die wegkommotor was, is ook in hegtenis geneem. Op 31 Mei is nog vier verdagtes, naamlik Makalo Mabote (39) wat eerste in die hof verskyn het, Khabele Nyane (30), Katiso Mahamo (27) en Pusetso Monyamane (31) ook vir die insident in hegtenis geneem. Die saak is tot 9 Junie uitgestel.
André van Biljon (70), sy seun Lukas van Biljon (47) en dié se kinders is op 27 Mei op ‘n kleinhoewe in Oranjeville aangeval. André van Biljon het op 30 Mei aan ‘n skietwond gesterf en Lukas van Biljon het steekwonde opgedoen. Khanye Muthi (32) en Latin Mofokeng (42) is vir die voorval in hegtenis geneem. Die verdagtes het in die hof verskyn, maar omdat die sake nie suksesvol aan hul verbind kon word nie, is die saak teen hulle in die hof teruggetrek.
Hlompo Patrick Phale (33), ‘n skaapwagter, is Saterdag 27 Mei vermoor en 98 skape is gesteel. Drie verdagtes, tussen die ouderdomme van 33 en 41, is in Randfontein, Gauteng in hegtenis geneem. Nog drie verdagtes is in Sasolburg in hegtenis geneem.
Mark Regal (50) is op 11 November 2022 op sy pa se plaas, Thelma, in Odendaalsrus doodgeskiet. Een aanvaller is ook tydens die voorval doodgeskiet. Khulekani Kaizer Mthethwa (45) is gesoek en gevind waar hy verhoorafwagtend in die tronk is vir ‘n roof in Odendaalsrus. Hy het Vrydag 2 Junie in die hof verskyn. Hy het borg laat vaar en sy saak is vir verdere ondersoek tot 29 Junie uitgestel.
Maj.genl. Len Singh, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het lede van die polisie en boeregemeenskap geprys wat hand aan hand gewerk het om hierdie verdagtes in hegtenis te neem.
“Members have worked tirelessly to apprehend these suspects and worked hard behind the scenes to do all they can to keep the perpetrators behind bars. These successes are also a showcase of how perpetrators can be brought to book through partnership policing” het genl. Singh gesê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



