Man ontvoer – oorleef vermeende poging tot moord

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Man (25) van Mohlakeng, ‘n seksie van Intabazwe naby Harrismith, is Sondag 4 Junie 2023 omstreeks 16:00 ontvoer.

AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê ‘n man (35) is intussen op klagtes van ontvoering en poging tot moord in hegtenis geneem.

Na bewering het die slagoffer Sondag by ‘n taverne saam met vriende gedrink toe ‘n verdagte bekend aan hom met sy voertuig, met nog twee vriende, daar aangekom het.

Die slagoffer is glo in die voertuig gedwing en na die verdagte se huis geneem. Die verdagte het die slagoffer glo van diefstal beskuldig en hom aangerand, terwyl die twee vriende alles aanskou het. Hierna is die slagoffer glo in ‘n kamer toegesluit en die verdagte is daar weg.

Die verdagte het later teruggekeer en die slagoffer met hande wat vasgebind was in die voertuig se kattebak gedwing, hom verder aangerand en na ‘n oop veld gery.

Hier het hy glo die slagoffer in die Wilgerivier probeer gooi en weggery. Die slagoffer het op die rivierbank beland en kon daarin slaag om homself los te wikkel.

Hy is huis toe en het die voorval aan familie rapoorteer en die Maandag aan die polisie.

Die polisie het die verdagte opgespoor, in hegtenis geneem en aangekla. ‘n Tweede verdagte is steeds soek. Die verdagte sal na verwagting vandag in die Harrismith-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.