‘n Dwerg-spermwalvis wat Vrydag 2 Junie 2023 in Lambertsbaai op die strand uitgespoel het, het na ‘n reddingspoging teruggekeer strand toe. Dit is daarna op ‘n menslike wyse deur owerhede van kant gemaak.
Avril Mocke, NSRI-Lambertsbaai-stasiebevelvoerder, sê die walvis was lewendig en het moontlik skeurbeseserings opgedoen deur oor klippe te skuur voordat dit op die strand tot ruste gekom het.
Die Weskus Animal Stranding Network is van die gestrande dier in kennis gestel.
NSRI-reddingswemmers het die walvis in ‘n poging om hom te red die see ingehelp.
Dit het gelyk of die dier sou oorleef, maar dit het ‘n ruk later weer gestrand.
TNPA Port Control is in kennis gestel.
Die departement van omgewingsake was saam met die SAPD op die toneel.
Die walvis is op ‘n menslike wyse doodgemaak en die karkas is deur owerhede verwyder.
Die poging deur alle betrokkenes om die walvis te probeer red, word geprys.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



