Pierre en Belinda de Kock, prominente figure in hul gemeenskap op Piketberg, is Sondag 4 Junie 2023 dood in hul huis op hul plaas Aurora gevind.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê Laaiplek-polisie het ‘n dubbelmoordsaak geregistreer nadat twee liggame (manlik en vroulik) Sondag ongeveer 18:00 op ‘n plaas naby Laaiplek in die Weskus-distrik gevind is.
Voorlopige verslae dui daarom dat beide die oorledenes, in hul 50’s, Vrydag 2 Junie 2023 omstreeks 19:00 laas gesien is.
‘n Vroulike werker het Sondag op hul liggame afgekom en die polisie verwittig.
Na bewering het een van die honde in en uit die huis gehardloop, wat haar aandag getrek het. Sy het ondersoek ingestel en het die liggaam van die vrou in die slaapkamer gevind. Sy was steeds in dieselfde klere wat sy Vrydag aangehad het, geklee.
Die liggaam van die man is in die motorhuis, met ‘n steekwond in sy nek, gevind.
Dit blyk nie in hierdie stadium of iets vermis is nie.
Geen inhegtenisnemings is tot op hede gemaak nie.
Die ondersoek van die moorde is aan speurders van die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid toegewys.
Enigiemand met inligting oor die noodlottige insident word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.
Volgens plasings op sosiale media was die egpaar baie gewild.
Die volgende plasing is deur Billy Claasen die direkteur van die Rural and Farmworkers Development Organization gemaak:
PIERRE EN BELINDA DE KOCK
Dit is ‘n koue nat Sondagmiddag in die Sandveld tussen Aurora en Piketberg. Donker weer pak saam en dit reën oral oor in die Bergrivier-area. Skielik breek die nuus so hard soos ,donderweer. Dit versprei soos swaar blitsslae deur die area en die landbougemeenskap veral. Pierre en Belinda is dood gevind in hul huis op die plaas.
Dit is met skok en leedwese dat ons kennis neem van die dood van die bekende egpaar. Hulle is aan my bekend vir etlike jare.
Oom Pierre ken ek as ‘n baie kalm sakeman op Piketberg wat met sy besproeiingsbesigheid menige boer aan die hard gevat het. Sy vrou was ‘n maatskaplike werkster wat later by die besigheid aangesluit het. Belinda het altyd aan my gesê: “Ek is Belinda en nie tannie nie, kan jy nie sien hoe jonk is ek nie? ![]()
.
Sy, Belinda, het ontpop in ‘n geharde sakevrou op Piketberg. Hulle is later na die plaas, maar Belinda het haar droom steeds geleef op Piketberg. Sy was ferm en geliefd onder menige inwoner op Piketberg en in die omgewing.
Ons leef in ‘n siek samelewing waar ons sal moet hande vat. Ons sal die euwel in ons lanboubedryf moet aanspreek en baie gou ook. Te veel lewens in ons area word onodig gevat en soms is ons te bang om te praat. Liefdevolle mense word wreed uit ons midde geruk dan mag ons nie oor die “olifant in die vertrek” praat nie. Dalk gebruik God juis nou die dood van die geliefde paartjie sodat ons kan praat oor dit.
MAG JUL IN VREDE RUS EN MY INNIGE MEEGEVOEL AAN DIE FAMILIE.
Elise en Charl Vercueil het die volgende plasing gemaak: “Pierre en Belinda de Kock , dis met skok dat my neef en vrou gisteraand vermoor is op hul plaas in Aurora. Mag jul vrede en rus vind by Onse Vader.”
Neels Hagen reageer soos volg: “RIV Pierre en Belinda.
Belinda, my niggie, nooit sou ek gedink het ek en jy praat verlede Donderdagagtermiddag vir die laaste nie. My geitjie niggie soos ek en Pierre altyd gespot het. Ek het jou nog geprys vir die wraps wat jy gemaak het Donderdag. Jou laaste soentjies het jy vir my gestuur. Sal jou kos mis wat jy van tyd tot tyd vir ons gemaak het. Altyd vir my laat weet ou neef ek het vir jou lamboud van die plaas af. Pierre vir jou elke week se geselsie en ons twee se spottery met die Hagens gaan ek baie mis. Ek sien jou nou nog voor my in my kantoor verlede Donderdag. Jou lag en ons spottery. Julle is op ‘n wrede manier van ons weggeneem. Piketberg met Droomland gaan nooit weer dieselfde wees nie. Ons het nog planne gemaak oor die verligte naamborde by Droomland en nog ander veranderinge. De Nel & De Kok se amper daaglikse pakkies wat ons moes aflewer. As ek daar kom, het jy my altyd laat dink aan n besige bytjie. ![]()
“
Ian Cameron het die volgende gesê: “Another couple murdered on a farm this weekend. Their names are Pierre and Belinda de Kock. They were killed on their farm Aurora close to Piketberg in the Western Cape. Say their names Mr President! They are NOT just numbers!”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



