Derde liggaam binne paar dae in dieselfde area gevind

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Derde liggaam in minder as ’n week is in Macassar, buite Kaapstad, gevind.

Die liggaam van die onbekende man is omstreeks 16:00 Donderdag langs die hoofweg deur ‘n verbyganger gesien terwyl dit in die water gedryf het.

Volgens Peter Helfrich, wyksraadslid, is dit nog ‘n raaisel of die persone wie se liggame gevind is, in die area gewoon het of elders vermoor is en dan in Macassar gelos is.

Polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, het die voorval aan FiND iT bevestig.

“Die man het geen beserings gehad nie en ‘n nadoodse ondersoek sal die oorsaak van sy dood vasstel.”

‘n Liggaam is verlede Sondag in ‘n oop stuk veld langs Macassar-weg gevind met verskeie steekwonde aan die gesig en nek, vermoedelik toegedien deur ‘n gebreekte bottel. Die oorsaak van dood en motief moet nog vasgestel word. Minder as ‘n week later is ‘n vrou se liggaam gevind wat in vlak water by Macassar-strand dryf.

Die oorsaak van dood moet nog vasgestel word.