Hein Janse van Rensburg (33), die eienaar van Reaper Insleepdienste van Middelburg in Mpumalanga, het dringende hulp nodig nadat die gesin se pitbull-terriër hom Sondag 28 Mei 2023 in onverklaarbare gedrag aangeval het.
Wil jy jou produk, diens of onderneming aan meer as 200 000 sosiale-media volgelinge en meer as 1 miljoen lesers bemark? Stuur ‘n e-pos aan [email protected] of klik op die skakel.
Tydens ‘n traumatiese voorval het Rocky, wat as troeteldier selfs by die seuns op hul beddens geslaap en in vrede saam met ander honde op die erf gewoon het, skielik vreemd opgetree en Hein ernstig beseer.
Zania Janse van Rensburg is bekommerd oor haar man se hande en of hy as die enigste broodwinner in staat sal wees om verder na hul gesin om te sien.
“Ons het vier seuns en hy gaan beslis vir fisioterapie verwys word, wat Hein bekommerd maak oor ons gesin se finansiële versorging.”
Sy sê aan FiND iT dat die eerste noodopersasie in ‘n poging om Hein se hande wat verskeur is te probeer red, reeds uitgevoer is. Hy word in die hospitaal gehou, maar moet weer Vrydag ‘n operasie ondergaan.
Die operasie is intussen na Donderdag vervroeg.
“Die dokter is veral bekommerd oor sy linkerhand.”
Die familie het nie ‘n mediese fonds nie en moet hul op donasies beroep in ‘n poging om die gebruik van Hein se hande te probeer red.
“Hein ondervind geweldige pyn.”
“Ons is dankbaar vir die ondersteuningsnetwerk van ons vriende en familie, asook beide van ons se ma’s wat ons bystaan.”
Indien sy swaer en ‘n vriend Hein nie te hulp gesnel het nie, sou die skade van die aanval moontlik heelwat erger gewees het.
Rocky, wat onlangs gesterliliseer is , het ‘n paar weke gelede van hul hondjies op die erf gebyt en dit het die dag van die aanval weer gebeur.
Zania was juis besig om die wond van een van hul hondjies te versorg toe Rocky onverklaarbaar op Zania afgestorm het, wat Hein laat reageer het deur ‘n sitkamertafeltjie tussen hulle en die hond te hou. Met die tafeltjie kon hy daarin slaag om Rocky tot buite die huis te dwing, waarna hy een van hul ander honde verskeur het.
Nadat dit voorgekom het asof Rocky rustiger was, het Hein na sy bakkie gestap waarna Rocky hom bestorm en omgespring het. In ‘n poging om die aanval af te weer, het Hein met sy hande gekeer, wat baie ernstig beseer is.
Rocky is uitgesit.
Indien jy die gesin wil bystaan deur vir Hein op die pad na herstel te help, kan jy met Zania by 079 183 1059 in verbinding tree.
Donasies kan ook direk in MidMed-hospitaal se rekening inbetaal word waarvan die besonderhede deur Zania verskaf sal word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



