Gedurende die week wat tot Sondag 28 Mei 2023 geduur het, het polisie in Tshwane ‘n totaal van 1 049 persone in hegtenis geneem.
AO Johan van Dyk, polisiewoordvoerder vir Tshwane, sê aansienlike suksesse is sedert 23 Mei 2023 tydens Tshwane-distrik se gesamentlike hoë intensiteit-misdaadvoorkomingsoperasies van Okae Molao behaal.
Twee Okae Molao-operasies is met verskeie rolspelers wat die departement van binnelandse sake, departement van arbeid, korrektiewe dienste, gemeenskapsveiligheid, misdaadvoorkomingsbeamptes, Tracker, Gauteng-verkeer, TMPD, plaaslike raadslede, GPF, Mamelodi-patrolleerders en verskeie polisielede van verskillende polisiestasies en eenhede van die Tshwane-polisiedistrik, uitgevoer.
Gedurende ‘n misdaadvoorkomingsoperasie in die Silvertonse polisiëringsarea is 50 persone wat verbode immigrante in diens gehad het in hegtenis geneem terwyl nog ‘n addisionele persoon vir die indiensneming van verbode immigrante vasgetrek is.
Operasies wat op 23 Mei in Atteridgeville-polisiëringsarea uitgevoer is, het tot gevolg gehad dat 258 persone vir verskeie misdade deur speurders in hegtenis geneem is, waarvan 27 vir huishoudelike geweld.
In Pretoria-Noord-polisiëringsarea is vier drankpersele en ‘n perseel vir tweedehandse goedere geëinspekteer. Daar is bevind die drankwet is op die vier persele oortree. Boetes is uitgereik en daar is op 239,510 ml drank beslag gelê wat vernietig sal word. Met inspeksie by die perseel vir tweedehandse goedere is gevind dat twee verdagtes die wet oortree het.
Speurders het 463 verdagtes waarvan 147 vir geslagsgebaseerde geweld, in hegtenis geneem.
Uniformlede het 94 ongedokumenteerde immigrante, 17 persone vir drink in die publiek en agt vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.
Addisioneel is daar op twee vuurwapens beslag gelê en twee persone is vir die besit van onwettige vuurwapens vasgetrek.
Agt voertuie is geskut vir verdere ondersoek omdat daar met die onderstelle en enjinnommers gepeuter is.
‘n Totaal van 2 091 individue en 1 139 voertuie is by padblokkades deursoek wat 361 Aarto-verkeersboetes ter waarde van R188 500 tot gevolg gehad het.
Beslag is op dagga met ‘n gewig van 4.825 kg gelê, wat vernietig sal word.
By die Nedbank Cup-finaal op Loftus Versfeld is vier individue vir kaartjiebedrog, besit van vermoedelike gesteelde eiendom en een verdagte vir roof met ‘n vuurwapen in hegtenis geneem.
Maj.genl. Nengovhela het sy dankbaarheid teenoor die rolspelers uitgespreek vir hul ondersteuning om veiligheid in die stad te bevorder.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



