Marno Muller – ‘n jaar later

Deel hierdie storie / Share this story

Marno Muller se storie het ‘n jaar terug Suid-Afrikaners en selfs mense in die buiteland aangegryp.

Sy vegtersgees het egter gemaak dat hierdie besige gesonde seuntjie, wat intussen ses geword het, herstel het.

Waar was jy op die oomblik toe jy van Marno se speelgrond-ongeluk bewus geword het? En seker die belangrikste vraag, het jy as ouer met kinders sedertdien anders na ‘n baadjie met toutjies vir jou kinders gekyk of het jy aanbeweeg?

Helga onthou elke dag en die baadjie beteken vir haar: “‘n Rillerdag, vrees, paniek, gebroke hart, trane en gebed buite ongevalle.”

Foto: Helga Muller

FiND iT het met mamma Helga gepraat om te hoor hoe dit nou met Marno gaan.

Natuurlik kan haar hande met twee seuns by haar soms vol wees, maar sy is ‘n “hands on” mamma en altyd teenwoordig om haar seuns by te staan. Sy stel dit onomwonde: “wanneer ons speel, speel ons almal saam, maak nie saak of dit buite is en of ons vol modder is nie.” Maar dan is daar die foto’s waar sy huiswerk saam met die seuns doen en ‘n pynlike netjiese agtergrond opgemerk word.

Marno was voor die ongeluk ‘n normale vyfjarige.

“Hy het geen bang haar op sy kop gehad nie en het dit geniet om nog voordat hy twee jaar oud was op speel-aparate te baljaar.”

Sedert ‘n jaar terug, wat vir hierdie familie steeds baie traumaties is, het alles binne ‘n oogwink verander toe Marno Donderdagoggend 26 Mei 2022 na 09:00 ‘n ongeluk op die speelgrond by sy skool gehad het.

Wie kan vergeet dat die 5-jarige aan sy Drimac se toutjies aan ‘n glyplank sou vashaak wat sy lugpyp sou toedruk? Soos wat die toutjie vasgehaak het en Marno teen die glyplank afbeweeg en gespartel het om los te kom, het die ritsluiter meer teen sy keel toegetrek.

“Volgens die breinchirurg was Marno ses minute sonder suurstof wat swelling en bloeding op sy brein veroorsaak het.”

Die gevolg was ‘n uiters kommerwekkende 26 dae in Garden City Netcare 911-hospitaal in Johannesburg se brein pediatriese intensiewesorgeenheid.

“Gedurende hierdie tyd was niks maklik nie.”

Op 3 Junie het Marno se longe platgeval en moes hy ‘n bloedoortapping ontvang.

“Sy niere het bietjie verswak en hy was permanent op adrenalien om sy hartjie sterk te hou. Genugtig, jy kan jou indink hoe vreesaanjaend dit is as jou kind daar lê, onbekend wat hierdie besering aan hom gedoen het, met 17 drups en ‘n kateter in terwyl hy onder sedasie gehou word. En hy veg!”

Op 12 Junie is Marno uit verdowing wakkergemaak, waarna hy eers na vier dae sy ma herken het.

“20 Junie bel die hoofsuster van die intensiewe sorgeenheid my en sê hulle wil Marno oorskuif na ‘n gewone pediatriese saal, maar hy weier om te eet. Ek weet Weet-Bix is sy gunsteling en ek is hospitaal toe waar ek hom kon voer. Daarna is die voedingspyp verwyder en is hy na ‘n gewone saal oorgeskuif. Hy het genadiglik hier net twee dae deurgebring, voorat hy die Woensdag ontslaan is.”

Op ‘n vraag oor hoe dit nou met Marno gaan, antwoord Helga dat dit baie goed met hom gaan: “Fris soos ‘n bul, gesond met ‘n gesonde gestel en hy is van Februarie af in ‘n medium-stroom skool. Die ongeluk is dat Marno onthou wat met hom gebeur het.”

“Hy sal op plastiek speel aparate gaan, maar sodra hy op staal speel aparate klim skree hy: “Mommy, I’m scared.”

Wat hou die toekoms vir Marno in? Sy terapie het reeds onder sedasie in die hospitaal begin.

“Dit was eers fisioterapie en toe hy eers wakker is, het spraakterapie gevolg om vas te stel of hy kan kou en sluk, wat hy nie kon doen nie aangesien hy verstik het, maar na ‘n paar dae kon hy dit doen.”

En alhoewel sy probeer het om soveel as moontlik by hom in die hospitaal te wees, was sy nie daar toe hy die eerste keer saam met ‘n fisioterapeut geloop het nie.

Helga vertel dit het ook ‘n paar dae geneem omdat Marno van balans, bewerig en swak was.

“Na talle mediese opvolgterapiesessies en sielkundiges, is daar besluit dat Marno speelterapie moet ondergaan omdat hy ‘n vrees vir ‘n hospitaal, suster en dokter het. Spraak en arbeidsterapie om sy fyn motoriese hand vaardighede wat as gevolg van die ongeluk verswak het, te behandel. Wat beteken dat hy nog ‘n lang pad met terapie moet stap.”

Vra jy vir Helga wat sy onthou, kan jy die vrees in haar stem hoor.

“Ek kan die dag nie in woorde beskryf nie. Ek onthou al die trane en hoe my hele wese gebewe het toe ek hom eers na twee ure kon sien. Dit het gevoel of ek van my kop af raak. Selfs foto’s en video’s wat ek van die tyd het, is vir my baie traumaties.”

En toe gebeur 12 Junie.

“Dit was die wonderlikste gevoel toe die suster my bel en sê sy het ‘n verrassing vir my, ek moet kom. Ek wou op Tafelberg skree en Jesus bedank omdat my kind wakker geword het.”

Helga is beslis wanneer sy hierdie raad gee: “Ek wil vir elke mamma vra om daardie toutjie op ‘n baadjie af te sny. Dit het amper my kind se lewe gekos.”

Marno het intussen ses geword en het ‘n rugbybal gekry wat hy gereeld onder toesig rondskop en Helga spog dat hy beslis ‘n aanvoeling vir rugby het.

Hy kon ook onlangs as klein seuntjie verstom toe hy na die Monster Jam kon gaan.

“Weereens dankie Suid-Afrika. Al het ek as mamma daar gestaan en so alleen gevoel, het julle in jul duisende tyd afgestaan aan liefde en gebede. Dankie dat julle dit moontlik gemaak het dat ek elke dag kon bel om te hoor hoe dit met hom gaan en dat ek elke dag by hom kon uitkom. Mag Jesus elkeen seën en aanraak op die mooise manier ooit.”

Helga noem dat sy deur alles en die trane wat gevloei het nie in staat was om daagliks self met almal kon kommunikeer nie.

“Gedurende daardie tyd was ek net by my kinders, maar veral by Marno in die hospitaal.”

Oor en oor spreek sy dankbaarheid uit teenoor die Here en Suid-Afrika en bid dat geen ouer ooit weer so iets moet deurgaan nie.

Dan glimlag sy wanneer sy afsluit dat sy dankbaar is Marno lewe en vertel hoe lief Zaydin (8) vir sy kleinboet is en deurentyd by hom is en hom oppas.

Boetjie Zaydin 8 is baie lief vir Marno, hy pas hom op en is heeltyd by hom.

Foto: Helga Muller

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.