Hulp benodig vir agtjarige wat beroerte kry en bloedklont op brein het

Deel hierdie storie / Share this story

Luané Serfontein (8) van Secunda en ‘n leerling aan Laerskool Goedehoop, het hulp nodig om ‘n CT-skandering en toetse by ‘n privaatinstansie te ondergaan.

Rika, Luané se mamma, sê aan FiND iT dat haar dogter ongeveer drie weke gelede vir haar gesê het dat haar linkerhand seer is.

Sy het eers nie ag daarop geslaan nie en na vier dae onraad vermoed toe sy opmerk dat haar dogter nie haar linkerhand behoorlik kan gebruik nie. Luané het alles met haar regterhand begin doen.

Een dag op pad skool toe het Rika gesien dat haar dogter sukkel om met haar linkerbeen te loop.

Haar ouers het haar na ‘n dokter in Secunda geneem, wat vir hulle gesê het dat hul dogter heel moontlik ‘n beroerte gehad het as gevolg van ‘n moontlike bloedklont op haar brein.

Die dokter het Luané na die pediater in Secunda verwys, wat haar op sy beurt na Witbank-provinsiale hospitaal verwys het.

Luané was Dinsdag en Woensdag, 16 en17 Mei 2023, by die Witbank-hospitaal waar ‘n CT-skandering gedoen is. Woensdag, toe hulle wou vertrek, is daar vir hulle verduidelik dat die skandering nie duidelik uitgekom het nie, maar die dokter het ‘n beroerte en die bloedklont op Luané se brein bevestig.

Die hospitaal het gevra dat sy moes teruggaan vir die skandering.

Alhoewel bloedtoetse ook gedoen is, wou die hospitaal vir Luané opneem om spraakterapie te ondergaan.

Haar ouers het geweier omdat sy geen probleme met haar spraak ondervind nie.

Sy word tans baie moeg, het kopseer en sy sukkel met die hand en been aan haar linkerkant en verloor boonop haar balans.

Mamma en pappa ondersteun haar baie wanneer sy staan of loop en sy moes boonop haar sport, wat netbal en Taekwando insluit, staak.

“Sy raak met tye emosioneel en sal sommer huil. Ons kan sien dat sy sukkel, maar ons probeer haar positief hou, al is ons harte net so seer soos hare.”

Die ouers vra vir enigiemand wat in staat is om hulle te kan help om hulle met fondse by te staan aangesien hulle Luané vir privaattoetse wil neem en ook wil uitvind waarom sy die beroerte gekry en die bloedklont op haar brein het.

Indien jy kan help tree met Rika Serfontein by 071 642 5843 in verbinding.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.