‘n Bejaarde egpaar, onderskeidelik 64 en 68-jaar oud, is glo in hul woning in Rensburg, Heidelberg, Gauteng, oorval en beroof.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê na bewering het die bejaarde man in die vroeë oggendure geluide by die eetkamer venster gehoor waarna hy ondersoek ingestel het.
Die slag wat hy gehoor het, was ‘n ruit in die middel van twee kantvensters sonder diefwering wat uitgeslaan is.
‘n Onbekende man met ‘n balaclava oor sy gesig en ‘n panga het hom glo gekonfronteer en selfone en geld geëis.
Die bejaarde man het probeer vlug waarna hy oorval en hulle glo na die kamer is waar die bejaarde vrou was.
Die verdagte het na bewering met selfone, ‘n handsak en ‘n onbekende bedrag geld van die toneel gevlug.
Geen beserings is aangemeld nie en die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof.
Heidelberg Times berig dat die voorval gedurende beurtkrag plaasgevind het. Die verdagte het weggekom met die SASSA geld wat die bejaardes net die vorige dag onttrek het en het hulle sonder enige geld gelaat.
Die gemeenskap van Rensburg het uitgereik en die bejaardes bygestaan wat weerloos en bevrees na die aanval gelaat is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



