Drie weke sonder water – ses in hegtenis vir diensleweringsbetoging

Deel hierdie storie / Share this story

Inwoners van Mmamahabane in Ventersburg, Vrystaat, is woedend nadat hulle vir drie weke nie water het nie en na ‘n diensleweringsbetoging op die N1- en R70-paaie is ses persone reeds in hegtenis geneem.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder vir die Lejweleputswa-distrik, sê die woedende inwoners het Dinsdag 14:30 van Mmamahabane na die kantoor van die munisipaliteit gestap om water te eis.

Toe hulle geen reaksie kry nie het hulle albei bane van die N1 met rommel, klippe en brandende bande afgesper.

Die Pienaarstraat-glybaan moes vir motoriste gebruik word om deur Ventersburg te kon ry, wat deur die verkeersdepartement gekoördineer was.

‘n Saak van openbare geweld is vir ondersoek geregistreer waar eers net twee persone vir beweerde deelname aan die protesaksie in hegtenis geneem is. Die getal het intussen na ses arrestasies toegeneem.

Lede van Welkom openbare orde polisiëring is teenwoordig om te verseker dat wet en orde gehandhaaf word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.