Solidariteit dagvaar pres. Ramaphosa oor raswet

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het op ʼn mediakonferensie aangekondig dat hy ʼn dagvaarding op pres. Ramaphosa, die departement van arbeid en indiensneming, asook die minister verantwoordelik vir die portefeulje, die direkteur-generaal van arbeid en indiensneming, en die Kommissie vir Diensbillikheid beteken het. Dit volg nadat die president vroeër vanjaar die wysigingswetsontwerp op sogenaamde billike indiensneming bekragtig het.

Die grondwetlikheid van die wysigingswet word deur Solidariteit in sy hofstukke betwis. Solidariteit voer verder aan dat dié wet strydig is met internasionale arbeidskonvensies en dat die regering hom skuldig maak aan minagting van hierdie konvensies.

“Die vlak waarop die regering diskriminasie in die werkplek wil normaliseer is skokkend. Die regering wil rasseteikens instel waaraan alle werkgewers in die land sal moet voldoen. Deur hierdie wet bekom die minister van arbeid ongekende magte wat die wurggreep wat ras op Suid-Afrika het, verskerp,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

In sy hofstukke bevraagteken Solidariteit onder meer die volgende punte:
1.    Te veel mag wat aan die minister van arbeid en indiensneming verleen word, wat die genuanseerde benadering tot regstellende aksie, soos wat die Grondwet vereis, ondermyn; en
2.    Die wet se strydigheid met betrekking tot die Republiek se verantwoordelikhede kragtens internasionale reg.

“Dit is onaanvaarbaar dat die regering hom selfs meer mag wil toeëien, en dit dan gebruik om sentrale beheer oor werkplekke, sektor vir sektor, uit te oefen. Solidariteit was deurgaans betrokke deur deelname aan parlementêre prosesse oor die voorgestelde wetgewing, maar dié bydraes, en skrywes aan die presidensie het op dowe ore geval. Dit is duidelik dat die regering vas van plan was om die wet in sy huidige formaat deur te voer, en om hom al meer mag toe te eien,” meen Hermann.

Solidariteit is verder van mening dat hierdie vorm van rasgebaseerde wetgewing nie ten doel het om historiese ongelykhede reg te stel nie, maar eerder om maatskaplike beheer toe te pas op grond van mense se velkleur.

“Deur die arbeidshof te nader is die eerste stap in ʼn massiewe proses om te verseker dat die ANC-regering nie daarin slaag om Suid-Afrika deur agterstevoor wetgewing te beheer nie. Die Suid-Afrikaanse regering is nou roekeloos met ras en gaan té ver. Die Konstitusionele Hof het onlangs beslis dat die regering té ver gegaan het toe hy finansiële hulp tydens die Covid-19-pandemie net aan swart ondernemings gegee het. Met hierdie raswet voer die regering dit weer te ver. Daar is geen regverdiging daarvoor nie. Solidariteit is gerat vir ʼn hofstryd wat die regering hier en wêreldwyd tot verantwoording sal dwing,” sluit Hermann af.

Laai die hofstukke hier af.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel