‘n Man (46) is tot lewenslange, plus ‘n addisionele vyf jaar, tronkstraf gevonnis vir die verkragting en poging tot moord op ‘n kind in die Umhlasini-gebied naby Durban in 2021.
Die kind, wat ten tye van die misdrywe vyf jaar oud was, het by haar ouma gewoon.
Die man, wat geweet het dat hy MIV-positief is, was die ouma se lewensmaat.
Die ouma het glo haar lewensmaat betrap met die slagoffer, maar hy het alles ontken. Hy het haar ook glo probeer vermoor.
Die slagoffer het ook aan haar ouma gesê dat dit nie die eerste keer is wat sy deur die “oom” verkrag word nie.
Die beskuldigde het glo die ouma se foon gevat sodat sy niemand kon kontak, maar dit aan haar teruggee toe hy die volgende dag gaan werk het.
Volgens Natasha Ramkisson-Kara, KZN NVG-woordvoerder, is die man kort daarna in hegtenis geneem.
Die slagoffer is na die Phoenix Thuthuzela-sorgsentrum (TCC) geneem waar sy die nodige psigososiale dienste, berading en ondersteuning ontvang het.
Ramkisson-Kara Natasha het gesê die NVG verwelkom hierdie suksesvolle vervolging en hulle prys die werk wat deur die vervolging en polisie gedoen is. “Ons hoop dat vonnisse van hierdie aard die nodige afskrik-effek sal hê.”



