Solidariteit beplan reuse-hofoptrede teen die nuwe rasregulasies wat Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer is. Hierdie 60 bladsye met regulasies bepaal gedetailleerde rassekwotas vir sektore en streke wat op werkgewers afgedwing kan word. ʼn Tydperk van 30 dae volg nou om kommentaar op die regulasies te lewer.
“Solidariteit het reeds stukke op die regering beteken om die raswetgewing, wat onlangs deur president Ramaphosa bekragtig is, as ongrondwetlik te verklaar en beplan nou om hierdie regulasies ook in die hof te beveg indien dit aanvaar word. Die wetgewing en regulasies verleen drakoniese magte aan die minister van arbeid en indiensneming,” meen dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Ons verwag dat die stryd tot in die Konstitusionele Hof gevoer gaan word. Solidariteit gaan ook in Desember vanjaar voor die Verenigde Nasies verskyn oor Suid-Afrika se oortreding van internasionale konvensies oor rassediskriminasie.”
Solidariteit is van mening dat hierdie wetgewing ʼn nuwe rasselaagtepunt in Suid-Afrika is. Suid-Afrika word nou volledig volgens ras gereguleer en is nou sonder twyfel die mees rasgereguleerde land ter wêreld.
“Die minister van arbeid en indiensneming het in die 60-bladsy lange dokument Suid-Afrika in detail volgens ras gereguleer. Dit is nie net wit werknemers wat hard getref sal word nie. Bruin en Indiërwerknemers is byvoorbeeld in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal oorverteenwoordig en sal agter werk moet aantrek.,” meen Hermann.
Solidariteit gaan met ʼn veldtog begin om werkgewers op groot skaal aan te moedig om tot die hofstryd toe te tree.
“Werkgewers word die swaarste getref. Hulle gaan nie meer mense kan aanstel op grond van wat hulle kan doen nie, maar hoe hulle lyk. Die regulasies maak reuse-inbreuk op die vryheid om te kan werk en besigheid te doen. Enige sodanige ingryp in die mark het verlies van werk tot gevolg. As die regulasies toegepas gaan word, gaan eienaars van kleiner ondernemings nie meer self hulle ondernemings kan bestuur nie,” sê Hermann.
“Ons vertrou dat honderde werkgewers, burgerlike organisasies en politieke partye tot die stryd sal toetree. Die regulasies is ʼn ambisieuse plan van sosiale manipulering. Sentrale beplanning van bevolkings het in die verlede tragiese gevolge gehad. Sentrale rasbeplanning is in alle opsigte verkeerd en Suid-Afrika moet oor rassegrense heen opstaan daarteen,” sluit Hermann af.



