Kyle Ruiters skuldig aan Lynette Volschenk moord, verwys vir psigiatriese evaluering

Deel hierdie storie / Share this story

Kyle Ruiters, wat op 21 Augustus 2019 vir Lynette Volschenk (32) in haar woonstel in Bellville doodgesteek en toe haar liggaam opgesny het, is vir 30 dae observasie na Valkenberg Psigiatriese Hospitaal verwys.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die Hooggeregshof van Suid-Afrika in die Wes-Kaap het Ruiters skuldig bevind op aanklagte van moord met voorbedagte rade, lykskending en poging tot regsverydeling.

Ruiters het dae gelede ingevolge Artikel 112 (2) van Wet 1977 skuldig gepleit. Hy het aan die hof gesê dat hy ‘n dwelmgebruiker is en dat hy sy dwelmhandelaar R30 000 skuld. Sy handelaar het indien hy nie sy skuld betaal nie, hom met ernstige gevolge gedreig. Hy het toe ‘n plan gemaak om iemand te vermoor om hul waardevolle items te vat om sy skuld te kan betaal.

Hy het in dieselfde woonstelgebou as Volschenk gebly. Ruiters het aanvanklik verskeie moontlike slagoffers nagevors, aantekeninge gemaak en video’s van hul bewegings na en van hul woning, werksplek en enige toevallige plekke wat hul sou besoek, opgeneem. Daarmee saam het hy ook hul sosiale media-aktiwiteite dopgehou. Hy het dieselfde met Volschenk gedoen en aantekeninge gemaak van sy voorneme om haar te vermoor.

Ruiters het selfs ‘n boodskap vir haar familie en vriende opgestel, vir ingeval hulle haar sou kom soek, maar hy het nie die boodskap geplaas nie en het dit op sy foon gehou.

Die middag van 21 Augustus 2019 het hy gekyk hoe sy na haar woonstel wat bo sy eie was, stap. Hy het vir haar gewag toe sy haar woonstel oopmaak en haar na binne gevolg. Hy het sonder uitlokking ‘n mes wat op die toonbank was gegryp en haar verskeie kere in die nek en lyf gesteek. Sy het geskree en die aanval probeer keer, waarna sy verdedigingswonde aan haar hande en onderarms opgedoen het.

Toe sy ophou beweeg het hy besef dat sy dood is.

Om van haar liggaam ontslae te raak, het hy besluit om haar op te sny.

Daarvoor het hy ‘n handsaag wat hy in die woonstel gekry het, gebruik. Terwyl hy die grusame taak uitgevoer het, het hy haar liggaam na verskeie dele van die woonstel gesleep. Dit was ‘n moeilike taak om te doen en hy het dit op die aand van 21 Augustus 2019 net so gelos, waarna hy na sy woonstel gegaan, sy klere omgeruil en gaan slaap het.

Die volgende oggend is hy terug na die woonstel, waarna hy haar kop in ‘n rugsak gesit en langs bosse naby Jip de Jagerweg in Bellville gegooi het. Hy is daarna na ‘n hardewarewinkel om ‘n stel geel handskoene en ‘n backsaw (rugsaag) te koop. Hy het aan die hof gesê hy het nadat hy haar liggaam in nege dele opgesny het, die dele na sy woonstel geneem en van koelbokse en sakke wat hy in die haar woonstel gekry, gebruik gemaak het.

Later is hy terug na die oorledene se woonstel waar hy bebloede items verwyder en in vullisdromme gegooi het. Daarna het hy probeer om die bloedspatsels in die woonstel skoon te maak.

Toe die oorledene egter nie by die werk opgedaag het nie het haar kollegas bekommerd geraak. Hulle het ‘n inwoner in die woonstelblok gekontak wat na haar gaan soek het. Sy het die veiligheidshek van die oorledene se woonstel oop gevind, die voordeur gesluit en het gesien dat die oorledene se voertuig nog in die parkeerplek staan. Sy het dit by die sekuriteit aangemeld. Sy, die sekuriteit, die oorledene se suster wat by die woonstel opgedaag het en twee kollegas is na die woonstel.

Hulle het geklop, waarna Ruiters met die geel handskoene aan, vir hulle die deur oopgemaak het.

Ruiters is gekonfroneer en hy het vir hulle gesê dat hy vir Volshenk werk en dat sy hom betaal om haar woonstel skoon te maak.

Daar was egter nog steeds bloed aan die mure en sommige liggaamsdele was nog binne die woonstel.

Hulle het die polisie gebel, waarna Ruiters in hegtenis geneem is. Die polisie het die swartsakke met haar liggaamsdele in sy woonstel gevind. Hy het hulle probeer mislei deur hulle na Jack Miller Park, in Frans Conradieweg in Bellville te neem waar hy beweer het hy haar kop weggegooi het, terwyl hy geweet het dat dit in die bosse naby Jip de Jagerweg in Bellville gestort is, vanwaar die klagte van regsverydeling gekom het.

Die staat het die hof nou gevra om Ruiters te verwys nadat ‘n aanvanklike verslag van dieselfde instansie verklaar het dat hy “definitiewe psigopatiese eienskappe” het en dat “indien hy skuldig bevind word, die hof in kennis gestel moet word dat hy as ‘n gevaar vir die fisiese en geestelike welsyn van ander verklaar kan word soos beoog in Artikel 286A van die Strafproseswet”.

Louise Friester, advokaat adjunkdirekteur en aanklaer sê die hof moet na die ontvangs van die verslag oortuig wees dat Ruiters ‘n gevaar vir die fisiese of geestelike welsyn van ander persone inhou en dat die gemeenskap teen hom beskerm moet word, voordat ‘n gepaste vonnis opgelê word. Sy beklemtoon dat aan albei vereisters voldoen moet word.

Sodra hy as ‘n gevaarlike misdadiger verklaar word sal hy met sy toestand ‘n onbepaalde tydperk in die tronk deurbring nadat hy vir ‘n tydperk geassesseer is om vas te stel wat sy gemoedstoestand is en of hy steeds ‘n gevaar vir die samelewing is.

In ‘n vroeëre psigiatriese verslag na aanleiding van ‘n bevel van die Bellville-landdroshof op 1 Desember 2022, het Ruiters aan psigiaters gesê dat hy gefassineer is deur reeksmoordenaars en dat hy die onderwerp breedvoerig nagevors het. Hy het onder meer Ted Bundy nagevors, maar was die meeste gefassineer met die Zodiac Killer wat nog nooit gevang is nie. Hy het ook oor die opsny van liggaamsdele navorsing gedoen.

Regter Robert Henny het die saak tot 9 Junie 2023 uitgestel en die beskuldigde ingelig dat hy in aanhouding bly totdat ‘n plek in Valkenberg Psigiatriese Hospitaal beskikbaar is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.