Musa Vinny Hlungwane (41) het op 3 Maart 2018 ‘n vrou (59 ten tyde van die verkragting) wat by Bosplaas naby Temba huis toe gestap het, aangerand en verkrag. Hy is in die Moretele-streekshof tot lewenslange tronkstraf vir die misdaad gevonnis.
Henry Mamothame, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, sê Hlungwane het die vrou, wat oor ‘n speelgrond gestap het, gekonfronteer. Hy het haar na ‘n nabygeleë verlate huis gesleep en beveel om uit te trek. Sy het geweier, waarna hy haar met ‘n bottel geslaan en haar verkrag het.
Hlungwane het van die toneel gevlug en die beseerde slagoffer net so gelos. Die slagoffer kon daarin slaag om die saak by die polisie aan te meld, waarna Hlungwane in Februarie 202 in hegtenis geneem is.
Hy het skuldig op die aanklag teen hom gepleit. Tydens die verhoor is Hlugwane ook skuldig bevind op ‘n ander saak van voertuigdiefstal en vir vyf jaar gevonnis.
Ter verswaring van sy vonnis het Muriel Masilana, die staatsaanklaer, die hof versoek om nie van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie. Sy het verder oor die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord in die land uitgewei en gesê die howe het ‘n verantwoordelikheid om vroue en kinders teen oortreders van sulke dade te beskerm.
Landdros Maryna Swanepoel het met die staat saamgestem en Hlugwane lewenslange tronkstraf opgelê.
Dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging in Noordwes, saam met lt.genl. Sello Kwena,die provinsiale kommissaris van polisie in die provinsie, het die aanklaer en konst. Rachel Moeketsi van die SAPD geloof vir samewerking wat ‘n gewenste uitkoms gelewer het.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



