Isaac Pule Maloi (31) is skuldig bevind aan die dubbele moord op 14 Mei 2022 op sy gewese meisie (32 ten tyde van die misdaad) en haar seun (14 ten tyde van die misdaad). Hy is onderskeidelik ‘n vonnis van 25 jaar en 15 jaar in die Vrystaatse Hooggeregshof opgelê.
Sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, sê Maloi het tydens die pleeg van die misdaad toegang deur ‘n venster van die slagoffers se huis verkry.
Hy het eers die seun van sy gewese meisie met ‘n hamer oor die kop geslaan. Daarna is hy na haar kamer. Hy het haar aangeval en verskeie kere met ‘n mes gesteek voordat hy van die toneel gevlug het.
Beide ma en seun is op die toneel dood verklaar.
Speur.konst. Masilo Moreki van Viljoenskroon-polisie het die ondersoek gelei en het die moordenaar, wat weggekruip het, opgespoor en in hegtenis geneem. Hy is met sy eerste hofverskying op 16 Mei 2022 borg geweier en moes in aanhouding bly.
Maj.genl. Moses Makubo het die vonnis verwelkom en gesê hy hoop dit dien as ‘n afskrikmiddel vir diegene wat dit oorweeg om die optrede van die beskuldigde na te volg.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



