Lees ook: Drie onderwysers in Oos-Kaap geskors oor beweerde seksuele misdrywe
‘n Onderwyser wat arbeidshof toe is om sy afdanking te betwis, het sy saak verloor.
Die onderwyser is afgedank na ‘n gr. 9-leerling ‘n klagte van seksuele teistering teen hom aanhangig gemaak het.
Die leerling het gesê die onderwyser het haar gedruk, op die voorkop gesoen, baby genoem en gesê hy’s lief vir haar.
Die leerling het in haar getuienis vertel die onderwyser, wat die gewoonte gehad het om leerlinge ‘n high-five te gee, het in die derde kwartaal begin aandring sy moet hom ‘n drukkie gee.
Sy het vertel die ander leerlinge het begin opmerk dat hy haar anders behandel en het begin sê hulle het ‘n onvanpaste verhouding. Sy het ook vertel die onderwyser het haar genooi om hom te gaan sien in haar vry periodes, maar sy het nie gegaan nie.
Die leerling het vertel die onderwyser het haar gevra om na sy klas te gaan ná ‘n eksamen en sy het gegaan, maar ‘n vriendin saamgeneem. Daar het hy hulle gevra of hulle in verhoudings is en of hulle seksueel aktief is.
Die leerling het vir haar tannie gesê wat aangaan en haar ma het dit aan die hoof rapporteer.
Die onderwyser het gesê hy het haar nie gesoen nie, maar hy het gesê hy is lief vir haar “omdat sy eerlik en braaf genoeg is om oor haar privaat lewe te praat” en dat sy soos ‘n dogter vir hom is.
Die onderwyser het gesê iemand moes haar en haar vriendin opgesteek het teen hom met die doel om hom uit die skool te kry.
Die regter het gesê die onderwyser was onvanpas en die vrae wat hy gevra het en die feit dat hy gesê het hy is lief vir haar, was nie onskuldig nie. Hy het gesê die afdanking was regverdig en die onderwyser het eerder ander mense probeer blameer toe hy moes verantwoordelikheid neem.
Bronne: IOL, VN Explorer
Lees ook: Drie onderwysers in Oos-Kaap geskors oor beweerde seksuele misdrywe



