Dood van jongman betreur – jongvrou kritiek beseer

Deel hierdie storie / Share this story

Mathys Strydom (23) en Chanel Maritz (22) was Vrydag 5 Mei 2023 in ‘n motorongeluk waarin Strydom dood en Maritz kritiek beseer is.

Volgens beriggewing van Proudly Heidelberg en plasings op sosiale media het die gru-ongeluk op die Nigel/Heidelbergpad plaasgevind.

Strydom is op die toneel dood verklaar terwyl Maritz per helikopter na ‘n mediese fasiliteit gevlieg is.

Die voertuig wat glo deur Maritz bestuur was, het teen die agterkant van ‘n vragmotor gebots.

Boodskappe op Facebook is ‘n bewys hoe gewild en geliefd Strydom was.

Selfs prominente figure in die wêreld van skoonheidswedstryde en ‘n boodskap uit Viëtnam het boodskappe van verlies gedeel.

Anna Baasden het haar skok uitgespreek en gesê Strydom se pa het jare gelede in ‘n motorfietsongeluk gesterf en sy ma is ook reeds oorlede.

Sy suster en ouma is sterkte toegewens.

Alida Strydom het die volgende geplaas:

Melissa Ludick, wat ‘n baie goeie vriendin van Mathys was, het hierdie spesiale huldeblyk aan hom met FiND iT gedeel:

My liefste,
Hoe baie het ek ‘n WhatsApp so begin, maar nooit sou ek kon droom dit is my laaste woorde aan jou nie. Ek wou nog so baie sê? Ek is so lief vir Heidelberg, maar ek moes gaan. Ek moes weggaan. En ek is vandag jammer. Jy het saam met my die Kaap oomblik-vir-oomblik gedeel. En ek sien jou nog voor die lughawedeure staan met jou bordjie ‘Mellie kom huis toe’. Jy en Chanel.
Ek probeer skryf, maar ek weet nie wat om te sê nie. Ek het jou in graad 2 leer ken, waarna ek eintlik verlief op jou geraak het hier teen graad 7! Ek sukkel, ek weet nie. Ek kan nie verstaan hoe so iets moes gebeur nie? Mathys, jy kan nie, nie nou nie.
Onthou jy daardie onverwagse trippie 2 uur die middag Sun City toe? Ons het ge-Shakira al die pad en gehuil en gelag oor alles wat ons so seergemaak het. Jy wou ‘n hotelkamer uitboek, maar my ouma wou niks weet nie! Haha, jy was so teleurgesteld, ons was mos op vakansie of hoe? Ek het jou eerste in die skare gesoek, jy was my partytjie, my lied en my lewe. Waar jy was, is waar ek moes wees.
Jy het geweet van alles in my lewe – tot die laaste detail. As ek hartseer was, het jy my kom optel, en selfs tot op hede nog Dingos en Ferreiras toe gevat. My lief, ek onthou daardie dag in Boksburg – ek was verskriklik siek weens my bloeddruk, en jy het snot en trane gehuil, my vasgehou en gesmeek dat ek nie mag siek wees nie, ek moet by jou bly. Maar kyk nou? Kyk net wat het gebeur. Hoe kon jy gaan, Mathys? HOE? Jy mag nie, nie nou nie.
Ek dank die Here dat jy my gebel het daardie aand in Heidelberg en ek kon jou deurpraat. Jou gesê jy is die sterkte mens wie ek ken. Ek was altyd so bly ek ken jou haha, want jy het die mooiste beste aangetrek, altyd netjies, altyd die mooiste mens wie langs my sou wees. En al die glamour! Jy was bo almal verhewe.
Ek wil praat oor matriek en dat jy elke liewe dag in my huis was. Onthou jy die onverwagse get-togethers by The Rock? En gou-gou middagete by jou huis eet. Ek onthou die depressie van in die Kaapwees en jy in Heidelbergwees – jy het altyd getroos deur te sê dat ons darem nog kan video call en praat? Wat van nou?
My lief, jy was ons stunner. Die model wie letterlik my mooiste maatjie was! Jy het soveel klas en styl gehad – altyd gespot en gese yes niemand kan naby jou kom nie!
Here – ek sal nooit weer iemand so ken nie. Jy het my regtig diep liefgehad vir wie ek was – foute en baklei en al – ons het altyd versoen en weer aangegaan asof niks gebeur het nie. Jy was my rots. Ek onthou daardie dag toe ons albei hartseer was oor waarheen ons nou eintlik op pad is, en het net deur die strate van Nigel gery en Jan Blohm geluister. Ek onthou hoe ons op Nigel rugby club se pawiljoen gesit het, en ek het die vrede waardeer – vrede dat ons is waar ons moet wees.
Daardie kuier by Gills se huis, het ons Francois van Coke se songs geluister en gesê ons wil nie oud word nie. Jy wou leef – en liefhê en ervaar en jonkwees. Dit is jy nou.
Graad sewe het jy langs my gesit, en so gelag vir my grappie oor diere en hongerwees. Jy het uit jou maag gelag – en dit is iets wat ek nooit uit my kop sal kan kry nie.
Mathys, nee. Ek kan dit nie glo nie, ek kan dit eenvoudig nie verwerk nie. Ek weier. Ek kan nie.
Jy was my lewe. My alles. Hoor jy, my lewe. Hoe gaan mens aan?
Waar jy is, is waar ek moet wees.
Ek het jou verskriklik lief, M. Met alles in en om my.

Mathys en Melissa : Foto verskaf

“Ons het saam grootgeword. Saam skoolgegaan. Alles. Hy was my suurstof. Die wind is uit my seile. Dit gaan nooit weer lig word nie. Dit kan nie.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.