Een persoon is matig en een gering beseer toe ‘n vragmotor en ‘n ligte motorvoertuig Donderdag 4 Mei 2023 net na15:00 op die M19 rigting Durban, KwaZulu-Natal gebots het.
ALS Paramedics Medical Services is na die toneel ontbied.
Na die twee voertuie mekaar getref het, het beide bestuurders beheer oor die voertuie verloor en het hulle teen ‘n steil wal af gerol.
Beide voertuie het op hul kante tot stilstand gekom.
Paramedici is teen die steil wal af om by die voertuie en hul bestuurders uit te kom.
Die vragmotorbestuurder, in sy 20’s, het matige beserings opgedoen en het in die wrak vasgesit. Hy moes deur gevorderde lewensondersteunende paramedici behandel en gestabiliseer word, terwyl brandbestryders reddingskake en ander hidroëliese toerusting gebruik het om hom na ongeveer ‘n uur en ‘n half uit die wrak te bevry.
Hy is teen die wal uitgedra na ‘n wagtende ambulans wat hom vir verdere mediese behandeling na ‘n hospitaal vervoer het.
Die bestuurder van die ligte motorvoertuig is slegs gering beseer en het mediese behandeling van die hand gewys.
Die oorsaak van die ongeluk is onbekend, maar owerhede, wat ondersoek sal instel, was op die toneel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



