Martin Wesemann, ‘n NSRI-Houtbaai-reddingswemmer, het Saterdag 29 April 2023, terwyl hy met vakansie in Hawaii was, gehelp om twee vroue se lewens te red.
Hyself, Sean Hutchinson, ‘n vriend wat in Hawaii bly, asook Toni, ‘n seeman, het nie gehuiwer om dadelik die vroue, wie se voertuig by die hawe in die water beland het, te red nie.
Die twee vroue, vermoedelik susters, het hul voertuig per ongeluk teen ‘n boothelling in die Honokohau-marina en Small Boat-hawe, Kailua-Kona, Hawaii, af gery.
Die drie mans het pas van ‘n bootvaart op Sean se boot teruggekeer toe die voorval plaasgevind het.
“Ons was op die boot langs die boothelling toe ons die voertuig opmerk met die vroulike bestuurder en vroulike passasier wat verby ons teen die boothelling af ry sonder om te stop, waarna die voertuig die water in is en verder die hawe in gedryf het voordat dit begin sink het.”
Wesemann vertel beide die vroue wou deur die voertuig se voorste syvensters ontsnap, terwyl die driemanskap sonder om te huiwer die water in is om hulle te help.
“Ons kon hulle sonder voorvalle deur die bestuurder en passasiervensters uit die sinkende voertuig en veilig tot by die strand help.”
Die polisie, brand-en-reddingsdienste, sowel as ‘n ambulans, het dadelik op die toneel aangekom, maar Wesemann het reeds ‘n sleeplyn met behulp van ‘n kegelknoop onder water aan die voertuig se as vasgemaak omdat dit nie ‘n sleepstang gehad het nie.
Die twee vroue is nie beseer nie. Daar word geglo hulle het per ongeluk teen die boothelling af gery omdat hulle op bevele van die voertuig se navigasiesisteem gery het.
Wesemann sê hulle was op die regte plek op die regte tyd om die vroue te kon help.
Die redding is op video vasgelê.
“In die video dra ek die grys hemp, Tony het die rooi hemp en Sean is in die swart hemp geklee,” het Wesemann gesê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



