Abbygail Brits (25) is oorspronklik ‘n nooi van Warmbad (Bela-Bela) in Limpopo. Sy was ‘n leerling van Hoërskool Warmbad. Tydens haar afsterwe het sy egter in Betlehem, Vrystaat gewoon en gewerk.
Sy is skielik op 18 April 2023 oorlede, nadat ‘n bloedklont deur haar hart is.
Elsie Brits, Abbygail se ma, sê dat hulle nie antwoorde oor die gebeure het nie.
“Verskillende dokters het al vir ons verskillende scenarios gegee, maar die antwoorde sal nie my kind terugbring nie.”
En al was haar dood skielik en onverwags, het hulle elke dag môre en nag gesê en tussenin ook met video calls gekommunikeer.
Terwyl hierdie moedige mamma met FiND iT oor haar besonderse dogter, wie se plekkie nou leeg is, gepraat het, het die feit dat sy baie besonders was, pertinent na vore gekom.
“Abby se geboortedag op 07-07-1997 om 07:00 die oggend was so spesiaal,” onthou Elsie.
Sy sê van kleins af wou Abby net altyd almal help en wou altyd leer hoe om dinge te doen.
Elsie onthou die mooi eienskap wat vir Abby so belangrik was – dat sy altyd ‘n glimlag op almal se gesigte wou sien.
“Dit maak nie saak of sy dalk self seer gehad het nie, sy het altyd ‘n skouer of oor vir iemand gehad om te leen wat dit nodig gehad het.”
En dan tree ‘n ander karaktereienskap van Abbygail in die “onthou” na vore.
“Indien iemand vals beskuldig was, sou sy die persoon altyd verdedig.”
Elsie het na haar afsterwe besef hoe groot die leemte is wat Abby los en besef hoeveel mense sy aangeraak het.
Volgens Elsie het haar dogter geglo dat jou hart jou skoonheid bepaal en nie hoe jy lyk nie.
“Sy het ‘n sterk geloof gehad en was tydens moeilike tye daarin geanker en het nie gehuiwer om te sê hoe goed Liewe Jesus vir haar is, of dat Hy die pad vorentoe sal wys nie. Ons moes net bly glo.”
Haar ma beskryf dat familie vir haar baie belangrik was en dat sy ‘n motto gehad het soos in die tekenprente, waarvolgens sy gelewe het, “Ohana means nobody gets left behind or forgotten.”
“As gesin is ons heg en ons het nie geheime vir mekaar gehad nie. Ons het altyd by mekaar gestaan.”
En dan vertel sy dat Abbygail se liefde vir kos maak haar partykeer heel
dag laat staan het om kos te maak, net om seker te maak dat almal genoeg eet.”
“Abbygail beteken “Father’s Joy” en sy en haar pa het beslis ‘n baie goeie band gehad. Hulle was baie na aan mekaar en sy was sy regterhand met enige projek wat hy sou aanpak, hetsy dit elektriese projekte of Wendy-huis bou was.”
“Die laaste ruk was sy ook so met haar vriend.”
Sy het selfs vir haar ma gesê hoe trots sy op haar sussie, met wie sy ‘n spesiale band gedeel het, is.
Dan sê sy beslis dat Abbygail haar kort lewe geniet het en alhoewel sy nog baie drome gehad het wat sy nou nie sal kan uitvoer nie, het sy in ‘n kort rukkie baie bereik.
Op ‘n vraag of daar spesiale herinneringe is, het ma Elsie sonder huiwering gesê: “Ek kan nie net een spesiale herinnering uitlig nie, want daar is so baie.”
En dan onthou sy hoe mense gereeld vir haar gesê het dat hulle kinders sulke mooi maniere het en sulke engeltjies is en sy dan sou sê dat daar geen engelkinders op aarde is nie, omdat kinders uit die aard van die saak kinders is.
“Maar ek weet dat Abby nou haar engelvlerke gekry het.”
En toe FiND iT die vraag vra of daar iets is wat sy graag vir Abbygail sou wou sê as sy ‘n geleentheid gehad het, het sy soos volg geantwoord: “Ek sou vir haar wou sê dat ek trots is op haar en dat ek altyd lief sal wees vir haar en dankie vir die wonderlike dogter wat sy was.”
“Daar is geen woorde vir ouers wat kinders verloor nie, maar ons glo die Here het ‘n hoër doel vir Abbs gehad.”
Abbygail laat vir mamma Elsie, pappa Hannes, sus Bernadette en ‘n vriend agter.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



