‘n Vrou (30) is deur die polisie in Limpopo in hegtenis geneem nadat sy glo haar vriend Saterdagaand 29 April 2023 omstreeks 22:45 by haar huis in Morarela in die Elandskraal-area in Marble Hall-polisiëringsgebied, vermoor het.
Kol. Malesela Ledwaba sê die vrou het na bewering haar lewensmaat van 29 jaar oud met ‘n mes doodgesteek.
Volgens inligting het die slagoffer ten tyde van die voorval sy lewensmaat by haar huis besoek toe die twee in ‘n hewige stryery betrokke geraak het.
Die verdagte het glo na buite gegaan om af te koel, maar die slagoffer het haar gevolg terwyl hy ‘n skerp voorwerp vasgehou het. Die slagoffer is in die bolyf gesteek tydens die bakleiery wat tussen die twee ontstaan het.
Die polisie en mediese nooddienste is na die toneel ontbied. Die man is op die toneel dood verklaar en die verdagte is in hegtenis geneem.
Die polisie het ‘n saak van moord geopen. Alhoewel die motief vir die moord nog nie bekend is nie, kan gesinsgeweld nie uitgesluit word nie.
Die verdagte sal Dinsdag 2 Mei 2023 in die Marble Hall-landdroshof verskyn. Die polisie se ondersoek duur voort.
Genl.maj. Jan Scheepers, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval ten sterkste veroordeel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



